TUINROETE | KLEIN KAROO NUUS - Vrese oor die Coronavirus en Chinese vliegstudente wat hierdie week op Facebook gedraai het is ongegrond.
Mense het op Facebook vrese uitgespreek dat Chinese-studente wat by vliegskole in die Suid-Kaap opgelei word, en volgens gerugte China toe is om die Chinese nuwejaar te vier, moontlik die virus met hulle kan terugbring.
Pikkie Siebrits, hoof uitvoerende beampte van Aifa wat in Oudtshoorn, George en Beaufort-Wes vliegopleiding verskaf het vandag gesê mense is onder ‘n wanindruk dat studente China toe gaan vir nuwejaarsvieringe. “Nie een van ons studente gaan ooit tydens opleiding terug China toe nie.
"As hulle hier is, is hulle hier vir die duur van hulle kursus wat ten minste 14 maande duur en in daardie tydperk gaan hulle nie buite die landsgrense nie. Die opleiding is eenvoudig te intensief om onderbreek te word vir besoeke aan China.”
Hy het verder die versekering gegee dat daar streng moniteringsprosesse by lughawens in China, sowel as in Suid-Afrika is waaraan enige voornemende student onderwerp word. “Enige persoon wat vanaf China reis, word ten minste drie keer getoets .”
“Ons werk baie nou saam met die Chinese- sowel as die Suid-Afrikaanse regering en mediese personeel om die gesondheid van ons kadette en personeel te verseker.”
Siebrits sê dat hulle as verdere voorsorgmaatreël alle reisplanne na China van personeel en kadette wat hulle kursus voltooi het, uitgestel het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'