Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Munisipale vragmotor het Maandagoggend omstreeks 10:15 'n muur by Laerskool Van Reede getref.
Volgens die bestuurder het hy sy vragmotor in Hoogstraat oorkant die MCPS-sekuriteitgebou tot stilstand gebring om vinnig by die aangrensende winkel iets te koop.
"Ek wou net vinnig iets gaan koop, en dis ook die rede hoekom ek nie die enjin afgeskakel het nie. My noodligte was aangeskakel en die handrem opgetrek. Toe ek buite die winkel kom was ek geskok omdat die vragmotor skielik skoonveld was. Dis toe dat ek gesien het my vragmotor het 'n muur onder in die pad getref."
Op geslotekringbeeldmateriaal wat aan die Oudtshoorn Courant gestuur is, is dit egter duidelik dat die vragmotor se noodligte nie geflikker het nie. Jaques Terblanche, werknemer by Klein Karoo Toyota, het gesê dat hy gesien het hoe die vragmotor, sonder 'n bestuurder, in Hoogstraat afloop.
"Op daardie oomblik het ek by ons administratiewe gebou gestaan toe ek die vreemde verskynsel van 'n vragmotor sonder 'n bestuurder opmerk. Ek het toe gesien hoe 'n vroulike passasier skreeuend by die passasierskant uitspring enkele oomblikke nadat die vragmotor op loop gegaan het.
"Ek het toe dadelik na buite gehardloop om die vragmotor onder beheer te probeer kry.
"Die vragmotor se momentum was egter te vinnig, en kon ek net toekyk hoe die vragmotor deur die skool se muur ploeg."
Terblanche sê dat dit net genade is dat dié vragmotor nie deur Klein Karoo Toyota se vertoonlokale en nuwe motors gery het nie anders was daar derduisende rande se skade aangerig.
Dié bestuurder kan ook baie gelukkig wees dat geen voertuig beskadig of persoon in Hoogstraat beseer is tydens hierdie botsing nie," het hy gesê.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'