OUDTSHOORN NUUS - Die bestuur van die plaaslike vliegskool, wat bedryf word deur AIFA en TFASA, het opnuut hul verbintenis aan die gemeenskap van Oudtshoorn beklemtoon deur hul te verbind as hoofborg van die gemeenskapsontwikkeling inisiatiewe van die Helping Our People and Environment (H.O.P.E.) Foundation.
Sedert 2006 is die H.O.P.E. Foundation betrokke met plaaslike projekte vir gemeenskapsontwikkeling en stel dit ten doel om in vennootskap met plaaslike rolspelers te fokus op die unieke Khoi-erfenis van die Oudtshoorn gemeenskap, en dit tot 'n toeriste-trekpleister uit te bou.
Die H.O.P.E. Foundation bestuur ook die ou tolhuis, geleë op die Swartbergpas, as gemeenskap- en bewaringsinligtingsentrum. Vanaf die ou tolhuis word verskeie Swartberg eko-toere deur gekwalifiseerde gidse aangebied.
Een van die H.O.P.E. Foundation se ontwikkelingsinisiatiewe is om plaaslike gidse op te lei as sterrekykgidse en sodoende die unieke Khoi-verhale aangaande die sterrehemel aan toeriste oor te dra.
Jan Bester, 'n plaaslike gids, toeroperateur en stigter van die H.O.P.E. Foundation, het in 2006 die 'High 5' sterrekykkonsep ontwerp en het sedertdien reeds verskeie gidse opgelei.
Belangstellendes wat 'n 'High 5' sterrekyksessie wil bywoon kan Jan Bester kontak by 082 461 8253.
Die sterrekyksessies kan ook vir groepe of funksies aangebied word by enige venue wat geskik is vir sterrekyk.
Vir enige verdere inligting oor die H.O.P.E. Foundation besoek: www.hopefoundation.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'