Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die liggaam van 'n plaaswerker wat sedert die naweek vermis is, is gister (Donderdagoggend) omstreeks 07:00 tussen riete in 'n plaasdam gevind.
Volgens Stephan Nel, plaasbestuurder van Buffelsdrift het Aaron Nkosikhona nie Maandag vir diens aangemeld nie.
"Hy is 'n baie lojale en betroubare werker en toe hy Dinsdag ook nie opdaag nie het ek geweet iets is fout."
Dit blyk dat gerugte teen Dinsdag onder werkers en kinders gehoor is waarvolgens die vermiste glo in 'n dam gegooi is. Nkosikhona is Dinsdag as vermis by die polisie aangemeld en volgens Nel het hy en werkers die plaas gefynkam vir enige teken van die man. Hy en nog 'n werker het gisteroggend naby die dam stilgehou en 'n blou kledingstuk tussen die riete in die water opgemerk.
By nadere ondersoek het hulle besef dit is 'n liggaam wat op die water dryf. Die polisie is ontbied en die liggaam is met behulp van 'n kano aan wal gebring. Die oorledene is op die toneel as die vermiste Aaron Nkosikhona geïdentifiseer. Persoonlike besittings en sy identiteitsdokument is in sy sakke gevind.
Die plaasbestuurder, personeel en polisielede op die toneel waar die liggaam in die dam gevind is. Die liggaam is in die agtergrond, met 'n kombers bedek. INLAS: Lede van die departement van gesondheid se forensies en patalogiese eenheid verwyder die liggaam van die toneel. Foto's: Hannes Visser
Volgens Nel kom die oorledene van Sedgefield af en sy familie is kort na die ontdekking van die liggaam in kennis gestel. 'n Nadoodse ondersoek sou vandag uitgevoer word om te bepaal of iemand vir sy dood verantwoordelik was. Polisielede op die toneel het aangedui dat 'n geregtelike nadoodse ondersoek gedoen word.
Hulle kon teen gister nie kommentaar lewer oor beweringe dat die oorledene deur iemand aangerand en in die dam gegooi is nie.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Liggaam in dam gevind
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'