Update
OUDTHSOORN NUUS - Hy gaan nie meer om borgtog aansoek doen nie.
So het die man wat glo die ma van sy kind vir twee dae toegesluit, gemartel en so ernstig aangerand het dat sy steeds in die hospitaal lê, vandag in die Oudtshoorn-landdroshof gesê.
Enver Campher, wat van poging tot moord aangekla word, het na bewering vir Natasha Mei (31) in die huis van sy suster in Bongolethu aangehou en ernstig aangerand.
Familielede van Mei het weer die hof volgesit en volgens hulle het Campher seker gehoor dat hy gaan "seerkry" indien hy vrygelaat sou word.
Die familie en gemeenskap is ook kwaad vir Campher se suster en vriend in wie se huis die aanranding plaasgevind het.
Volgens Natasha se niggie, Elmarencia van Hansen, was feitlik alles in die huis met bloed besmeer.
Hulle het Emerentia bebloed en kaal op 'n bed in die kamer aangetref nadat gemeenskapslede die huis se deur oopgetrap het.
Fytjie Mei (middel), moeder van Natasha, saam met familielede buite die Oudtshoorn landdroshof.
Die familie en gemeenskapslede beweer dat Campher se suster hom glo gehelp het om vir die polisie weg te kruip.
Volgens 'n familielid, Siena Mei, sal Natasha komende Sondag na 'n hospitaal op George oorgeplaas word vir 'n operasie aan haar kakebeen.
Volgens haar moeder, Fytjie Mei, is van haar tande uitgeslaan. "Dit was vreeslik om my kind so te sien," sê sy.
Ao Martin le Roux, die ondersoekbeampte, sê die ondersoek is feitlik voltooi behalwe vir hospitaalverslae wat nog nie ontvang is nie..
Landdros Lorraine Samuels het die saak tot 9 Oktober uitgestel.
Lees 'n vorige artikel: Vrou vir dae gemartel en aangerand
ARTIKEL EN FOTO: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'