Update
BEAUFORT-WES NUUS - Angus Minnaar (22), wat in 2018 'n 13-jarige meisie en haar 14-jarige neef na bosse naby 'n rivier gesleep, hul voete met die seun se skoenveter aanmekaar gebind en die meisie twee keer verkrag het, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof lewenslange gevangenisstraf vir verkragting opgelê, asook tien jaar vir roof met verswarende omstandighede en nog twee jaar vir menseroof.
Hy dien tans 'n vonnis van 25 jaar uit vir moord en die lewenslange tronkstraf kom eers in werking na die verstryking van die vonnis vir moord.
Hy het 'n 22-jarige familielid, Tescolene Cedras, in 2017 met 'n mes gesteek en van R50 beroof.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het met vonnisoplegging gesê dat sy geen wesenlike of dwingende omstandighede kon vind om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis vir verkragting nie.
Minnaar het die dade met die twee kinders op 15 Julie 2018 gepleeg. Hy het 'n skaapskêr naby hulle in die grond gesteek om hulle bang te maak. Minnaar het getuig dat hy die twee kinders die betrokke dag gevra het om te help soek na perde en ontken dat hy hulle vasgebind en die meisie verkrag het.
Volgens hom het die meisie hom gevra of hy al seks gehad het en toe haarself uitgetrek.
Die 14-jarige seun het getuig dat Minnaar hom beveel het om sy baadjie uit te trek en op die grond te gooi sodat die meisie daarop kon lê. Hulle kon nie om hulp roep nie omdat Minnaar hulle met die dood gedreig het. Hy het 'n kondoom uit sy sak gehaal en die meisie verkrag waarna hy dit weggegooi het en haar 'n tweede keer sonder 'n kondoom verkrag het.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het in haar uitspraak gesê Minnaar het leuens in die hof vertel en sy weergawe verwerp.
Hy het die kinders, wat hom nie geken het nie, van hul vryheid ontneem en kon nie 'n bevredigende antwoord gee oor hoe sy DNS in die kind se vagina en op haar onderklere beland het nie.
Staatsaanklaer Brandon Smith, het die hof versoek om Minnaar vir altyd uit die gemeenskap te verwyder.
"Die beskuldigde het reeds 'n kind se lewe geneem en indien hy buite die tronk gaan kom sal nog kinders se lewens verwoes word," het Smith gesê.
Die meisie sukkel om te slaap en haar eetgewoontes het ook verander. Haar ma blameer haarself vir iets wat die beskuldigde gedoen het. Wat verder verswarend is, is die feit dat die beskuldigde toe hy 14/15 jaar oud was ook aan verkragting skuldig bevind is.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê Minnaar het 'n kind in die teenwoordigheid van 'n ander kind verkrag en ten spyte van DNS-bewyse steeds onskuldig gepleit. Hy toon geen berou en neem nie die hof in sy vertroue nie.
"Dit is duidelik dat die beskuldigde geen respek toon vir ander mense op straat nie. Dit is dus onveilig met mense soos hy op straat."
Die hof het gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'