BEAUFORT-WES NUUS - 'n Jong man van hier, wat twee tieners ontvoer, die meisie twee keer verkrag het en ook 'n familielid van R50 beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind aan verkragting van 'n minderjarige meisie (13), twee aanklagte van menseroof en een van roof met verswarende omstandighede.
Angus Minnaar het op 15 Julie 2018 die meisie en haar 14-jarige nefie na bosse naby 'n rivier gesleep, met 'n skaapskêr gedreig, hul voete met 'n skoenveter aanmekaar gebind en die meisie verkrag terwyl hy 'n skaapsker naby hulle in die grond gesteek het om hulle af te skrik.
Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy 'n familielid, Tescolene Cedras, met 'n mes gedreig het en van R50 beroof het.
Op die aanklag dat hy op 27 Mei 2017 n 16-jarige seun van 'n R100 beroof het is hy onskuldig bevind.
Minnaar het getuig dat hy die twee kinders die betrokke dag gevra het om te help soek na perde en ontken dat hy hulle vasgebind en die meisie verkrag het.
Volgens hom het die meisie hom gevra of hy al seks gehad het en toe haarself uitgetrek.
Die 14-jarige seun het getuig dat Minnaar hom beveel het om sy baadjie uit te trek en op die grond te gooi sodat die meisie daarop kon lê.
Hy het daarna een van die seun se skoenveters geneem en die twee se bene aan mekaar vasgebind. Hy het 'n kondoom uitgehaal en die meisie verkrag waarna hy dit weggegooi het en haar 'n tweede keer sonder 'n kondoom verkrag het.
Hy het die seun met die dood gedreig en beveel om weg te kyk. Daarna het hy hulle losgemaak en aangesê om verder na die perde te gaan soek.
Streeklanddros Sylvia Mandla het in haar uitspraak gesê Minnaar het leuens in die hof kom vertel en sy weergawe verwerp.
Hy het die kinders, teen hul wil, na bosse naby die rivier gesleep en die meisie verkrag. Die kinders het hom nie geken nie en het geen rede gehad om hom valslik te beskuldig nie.
Die hof het bevind dat die twee kinders met vertroue getuig het, selfs met kruisondervraging.
Die hof kon ook geen weersprekings vind nie en geen rede bestaan om nie hul getuienisse te aanvaar nie.
Minnaar kon nie 'n bevredigende antwoord gee oor hoe sy DNS (semen) op die toneel beland het nie.
"Die enigste afleiding wat die hof kan maak is dat die beskuldigde seks met die kind gehad het," het die landdros gesê.
Die saak is vir vonnisverrigtinge tot 13 April uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'