OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n verkeersbeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit wat van korrupsie aangekla word, is Maandag in die streekhof vir verhoor uitgestel nadat hy regshulp bekom het.
Marshall Wagenaar staan tereg op twee aanklagte van korrupsie. Hy het na bewering in April 2017 onderskeidelik R2 500 en R3 500 van twee broers, Johannes en Nicolas Mulder, ontvang vir vroeër datums om hul swaarmotorvoertuiglisensies te bekom.
Sy regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof meegedeel dat hy nog nie die dossier gesien en daarom nog nie gereed is vir die verhoor nie.
Wagenaar het hom hierna ingelig dat hy wel in die besit daarvan is waarna Botha om uitstel gevra het vir konsultasie met die beskuldigde.
Wagenaar se vorige regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het hom vroeër aan die saak onttrek.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Wagenaar gemaan om sy sake agtermekaar te kry sodat die verhoor op 7 Junie kan begin.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'