Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee Matie-studente en 'n hoërskoolleerder se vakansieplanne het byna sleg skeefgeloop toe hulle motor die pad verlaat het.
Die drie was verlede Vrydag vanaf Paarl na 'n vakansiehuis in die omgewing van Humansdorp onderweg toe die botsing plaasgevind het.
Die botsing het ongeveer 10 km buite Oudtshoorn op die George-pad plaasgevind.
Die Suzuki waarin die drie was het net na 'n draai links van die ryvlak op die skouer van die pad beland en gegly.
Daarna het dit oor die pad beweeg en aan die regterkant van die pad omgeslaan.
Die drie insittendes kon daarin slaag om uit die motor te klim terwyl dit op sy sy gelê het.
Met die hulp van omstanders is die voertuig weer op sy wiele gekeer.
Ambulanspersoneel was binne minute op die toneel en het bevind dat die drie jong mense geskok, maar ongedeerd was.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant het hulle reeds gesinslede van die botsing laat weet en was iemand onderweg om hulle by die toneel te haal.
Lees 'n vorige artikel: 3 in ongeluk buite Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'