OUDTSHOORN NUUS - Union Stars-krieketklub se T20- vrouespan het verlede Sondag groot opslae gemaak toe dié span Krieket Suid-Afrika (KSA) se nasionale T20-klubkampioenskappe in Potchefstroom gewen het.
Union Stars het in al vyf sy wedstryde met hul teenstanders klaargespeel en R10 000 prysgeld tesame met 'n spoggerige trofee ingepalm.
Dit was ook die eerste keer dat KSA hierdie toernooi vir klubs aanbied - dus het Union Stars geskiedenis gemaak deur die eerste span te wees wat die trofee inpalm.
Alhoewel Union Stars se puik veldtog toegeskryf word aan 'n kliniese spanpoging, het briljante individuele spel van spelers soos Micaela Andrews, Janè Winster, Mieke de Ridder en Askahe Nyonvane, die oog gevang.
Union Stars het in die proses met die Wanderes (Lions), Jendapark United (OP), Lindelani (KZN), Avion (Oostelikes) en Kalahari Eye Warriors (Noord-Kaap) klaargespeel.
Michelle Weyers het tydens 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant die wedstryde teen Lindani en Avion uitgesonder waar die span harde bene moes kou om die knoop deur te hak.
"Dis wedstryde wat enige kant toe kon geswaai het, maar danksy hardnekkige geloof en karakter kon ons wen en sodoende met die toernooi afsluit. Oor die algemeen was dit een groot spanpoging. Dan ook groot waardering aan Katrisha Strydom (spanbestuurder), Jané Winster (speler/afrigter) en die kaptein Haroline Rhodes vir hul uitnemende leierskap. Met het hierdie oorwinning het ons nie net Oudtshoorn trots gemaak nie, maar ook die hele Wes-Kaap sowel as die Garden Route Badgers," het Weyers gesê.
Weyers het ook gesê dat dié KSA-toernooi die laaste aksie vir die seisoen was en dat die voorseisoenoefening reeds in Julie begin met die amptelike krieketseisoen, vanaf September.
Die president van SWD-krieket, Rudy Claassen, het Union Stars met hul prestasie gelukgewens en uitgewys dat die ontwikkeling en opheffing van vrouekrieket op alle vlakke vir baie jare 'n strategiese doelwit van SWD-krieket was.
So het Union Stars se wedstryde verloop:
vs Lindelani CC (KwaZulu-Natal)
- UNION STARS 154/4 – 20 boulbeurte
- (Mieke de Ridder 71*, Miceala Andrews 29, Haroline Rhodes 26)
- LINDELANI 148 almal uit – 19.3 boulbeurte
- (Jané Winster 2/25, Haroline Rhodes 2/29, Marnazelle Rabie 2/41)
- Union Stars wen met ses lopies.
vs Wanderers CC (Lions)
- WANDERERS 142/2 – 20 boulbeurte (Marnazelle Rabie 1/23)
- UNION STARS 144/4 – 19.2 boulbeurte (Miceala Andrews 45, Mieke de Ridder 26, Haroline Rhodes 21)
- Union Stars wen met ses paaltjies.
vs Jendamark United CC (OP)
- JENDAMARK UNITED 89/8 – 20 boulbeurte
- (Miceala Andrews 3/12, Marnazelle Rabie 2/19)
- UNION STARS 92/2 – 11.4 boulbeurte
- (Mieke de Ridder 44*, Miceala Andrews 27)
- Union Stars wen met agt paaltjies.
vs Avion Cricket Club (Oostelikes)
- AVION 163/2 – 20 boulbeurte
- (Asakhe Nyovane 1/19)
- UNION STARS 167/1 – 17.2 boulbeurte (Miceala Andrews 88, Asakhe Nyovane 57)
- Union Stars wen met 9 paaltjies.
vs Kalahari Eye Warriors (Noord-Kaap)
- KALAHARI EYE WARRIORS 91 almal uit - 19.2 overs
- (Marnazelle Rabie 2/20, Faith de Jonck 2/23, Jané Winster 3/13)
- UNION STARS 92/0 – 10.4 overs (Miceala Andrews 33*, Ashake Nyovane 45*)
- Union Stars wen met 10 paaltjies.
Union Stars se kaptein, Haroline Rhodes, pronk trots met die trofee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’