Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee ongelukke, wat Sondag 27 Augustus rondom Oudtshoorn plaasgevind het, het drie lewens geëis en byna 10 mense in die hospitaal laat beland.
In die eerste insident, volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sers. Christopher Spies, het die Oudtshoorn-polisie 'n dossier vir strafbare manslag geopen na die dood van twee mense as gevolg van 'n ongeluk op die Rooiheuwelpad naby die N12.
"Beskikbare inligting dui daarop dat nooddienste net voor 16:00 na 'n ongeluk ontplooi is. Met hul aankoms het hulle 'n Datsun Go gevind wat omgeslaan het. Twee insittendes, 'n vrou en 'n kind, het veelvuldige beserings opgedoen. Beide is op die toneel deur paramedici dood verklaar terwyl vier ander insittendes, wat ook beserings opgedoen het per ambulans na die hospitaal geneem is," het Spies gesê.
Volgens Spies was die voertuig glo ten tyde van die ongeluk vanaf Dysselsdorp na Oudtshoorn op pad, en moet die oorsaak van die ongeluk nog vasgestel word.
Volgens Shamiela Marnewick was die twee oorledenes 'n ouma en kleinkind. Kleine Mason Marnewick, haar niggie se kind, was slegs drie jaar oud en sou in November vier word. Sy ouma was Golda Avontuur. "Die familie is nog in skok, baie hartseer en probeer nog alles verwerk, en sy ma is heeltemal stukkend, Mason was haar enigste kind. Ons wag nog vir die nadoodse ondersoek om gedoen te word voor ons hulle kan begrawe," het sy hartseer vertel.
Volgens haar het die ongeluk juis plaasgevind toe almal op pad terug huis toe, na Dysselsdorp was.
In die tweede voorval, later dieselfde dag omstreeks 16:45, is een persoon dood op die N12 naby Klipdrif. Die George-polisie het volgens Spies 'n dossier vir strafbare manslag geopen.
"Die inligting beskikbaar aan ons dui daarop dat 'n Volkswagen Polo vanaf George na Oudtshoorn op pad was toe die ongeluk plaasvind. Een insittende het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Verder is vyf ander passasiers met ernstige beserings per ambulans hospitaal toe geneem," het Spies bygevoeg.
Volgens Spies moet die identiteit van die ander oorledenes nog bevestig word.
Vorige artikel: 1 dood na ongeluk op die Oudtshoorn-pad
Wyle Mason Marnewick Foto: Facebook
Foto's: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’