BEAUFORT-WES NUUS - Beaufort-Wes-polisie en Wes-Kaapse provinsiale verkeersbeamptes het op 20 Maart tydens twee afsonderlike insidente, op dwelms met 'n geraamde straatwaarde van meer as R770 000 beslag gelê.
Volgens sers. Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaapse polisie, het die eerste insident om 00:15 langs die N1 naby Beaufort-Wes gebeur.
Hy sê dat Beaufort-Wes-polisie 'n verdagte voertuig langs die pad opgemerk het - hulle het die voertuig deursoek en op 28,8 kg se dagga met 'n geskatte straatwaarde van R57 600 beslag gelê. Drie insittendes tussen die ouderdom van 36 en 41 jaar oud is vir die handel van dwelms aangekla en in hegtenis geneem.
Hierdie drie verdagtes is van die Kaapse metropool. Hulle het op 22 Maart hul eerste hofverskyning in Beaufort-Wes-landdroshof gemaak, al drie is op borgtog van R3 000 elk vrygelaat. Die saak is tot 27 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.
Die tweede insident het dieselfde aand omstreeks 02:30 plaasgevind. Spies sê dat Wes-Kaapse provinsiale verkeersbeamptes 31 sakke dagga in die waentjie van die minibustaxi gevind het.
Hierdie vonds het 'n geraamde straatwaarde van R721 000 - beide die bestuurder en passasier is vir die handel van dwelms aangekla en in hegtenis geneem. Die twee verdagtes, onderskeidelik 26 en 37 jaar oud, het in die Laingsburg-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding. Die saak is tot 29 Maart vir borgtog uitgestel.
Spies sê dat 'n voorlopige ondersoek daarop dui dat die besendings vir aflewering in die Kaapse metropool bestem was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’