OUDTSHOORN NUUS - Twee mans van Rose Valley wat tereggestaan het op 'n aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal, is in die Oudtshoorn-streekhof aan die alternatiewe klagte van besit van gesteelde goedere skuldig bevind.
Jonathan Manuel (40) en Jeremy Adams (38) is saam met nog twee verdagtes daarvan aangekla dat hulle by die woning van Emmerentia Jordan ingebreek en items waaronder drie televisiestelle van meer as R66 000 gesteel het.
Hul medebeskuldigdes is reeds aan huisbraak skuldig bevind en gevonnis nadat hulle skuldig gepleit het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Manuel en Adams vorige veroordelings het.
Sy het die hof ook versoek om die twee te waarsku dat hulle 'n volgende keer tot gewoontemisdadigers verklaar kan word.
Manuel se regsverteenwoordiger, adv. Dawie Scholtz, het die hof versoek om in ag te neem dat hy reeds langer as twee jaar in aanhouding is.
Adams se regsverteenwoordiger, Cindy Smith, het aan die hof gesê dat die platskerm televisiestel aan die eienaar terugbesorg is.
Adams het die televisiestel by die ander verdagtes gekry.
Sy het toegegee dat die publiek siek en sat is vir inbrake by wonings en besighede.
Streeklanddros J C Nortjé het bevind dat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat Manuel en Adams by die inbraak betrokke was nie, maar wel in besit was van sommige van die gesteelde items. Hy het in ag geneem dat hulle reeds langer as twee jaar in aanhouding is wat reeds as 'n mate van straf gedien het.
Manuel is twee jaar gevangenisstraf opgelê wat beteken dat hy na die uitdiening van 'n sesde van die vonnis (vier maande) om parool aansoek kan doen. Hy is ook twee jaar gevangenisstraf opgelê wat in ge-heel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Adams is tot 48 maande gevangenisstraf gevonnis waarvan 40 maande vir vyf jaar opgeskort is.
Albei is onbevoeg verklaar om vuur-wapens te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'