Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Bridgton op Oudtshoorn, wat nog altyd die begeerte gehad het om leerders naure met hul navorsingswerk en take te help en nie die geriewe tuis het nie, het pas haar eie leersentrum, die Lighthouse Learning Centre begin.
"Ek wil bietjie lig in kinders se lewens bring," sê Alicia Coetzee.
Coetzee, wat vir 'n paar jaar saam met haar susters, Serelia en Carmen, 'n Kersfees-straatpartytjie vir die kinders van Du Toitstraat gehou het, sê sy is dankbaar vir die ondersteuning wat sy van besighede en 'n paar individue gekry het om die sentrum van die grond af te kry.
Sy het twee "stasies". Die een in 2de Laan 6, Rocky Hill vir leerders in die omgewing van die Hoërskool Môrester en die ander in Du Toitstraat 2315, vir leerders van die Bridgton Senior Sekondêr (BSS).
Die sentrum is amptelik deur pastoor Willie Coetzee van Grace Church International geopen. Hy het die hoop uitgespreek dat die sentrum van krag tot krag sal gaan.
Volgens Coetzee het sy twee drukkers van die Montissori Skool ontvang, terwyl die Wi-Fi deur Lery Stander van Quick Care, Ryan Pietersen en Denise Levendal geborg word.
'n Voormalige hoof van die Hoërskool Môrester, Jacobus Franzen, borg die ink en papier vir die drukkers, terwyl sy ook bydrae van individue gekry het vir die aankoop van ander toerusting.
Volgens Coetzee kan leerders, en veral matrikulante, na die sentrum kom vir gratis navorsing van take.
Die twee stasies is elke dag oop en leerders sal geleentheid kry om beurtelings vir sowat 'n uur op die rekenaars te werk.
Hulle sal bygestaan word deur Peter-John Horne, die programleier en opvoeder van Hoërskool Protea.
Vorige artikel: Sy wil lig bring in kinders se lewens
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'