SPORTNUUS - Die SWD-sierduifskou wat verlede Saterdag by Barons Palace gehou is, was 'n reusesukses. Evan Bell se mookee-ras het die prys vir beste junior duif verower, terwyl Jannie van den Heever se Chinese uil-duif, as kampioenduif aangewys is.
Beide wenners het as deel van pryse 'n gekenkbewys by The Baron Hotel gewen.
Vertoners het sover as Struisbaai en Kaapstad gereis om dié skou by te woon wat reeds teen 09:00 begin het.
Volgens een van die hoofbeoor-delaars Jas van Niekerk, het sowat 210 duiwe vanjaar ingeskryf vir die skou waarvan 47 duiwe deur junior lede vertoon was. Hy verduidelik dat die rasse op die vloer beoordeel word op grond van verskeie faktore wat postuur, balans, houding, lengte, gewig, bouvorm, vere ens insluit.
Van die rasse wat te sien was by die skou het Lahores, Mookies, Chinese uile, Waaiersterte, Modena, German Beauty Homer, Birmingham Roller,
Arabiese lagduiwe, Kings en Italianse Uile onder andere ingesluit.
Van Niekerk het ook beloof dat Oudtshoorn in die toekoms meer sierduifskoue te siene sal kry.
Een van die sierduiftelers by dié skou, George Bell, sê dat die lekkerste deel van om met sierduiwe te teel is die plesier wat dit hom verskaf om te sien hoe 'n duif tot op sy allerbeste voor sy eie oë ontwikkel. Bell sê dat hy selfs al een of twee duiwerasse uit Duitsland ingevoer het vir genetika doeleindes.
"Kyk, duiwesport om te begin, is oor die algemeen nie te duur nie, maar soos enige duiweboer jou sal vertel, as die gier jou eers vat, het hy jou behoorlik beet. 'n Sierduifskou soos hierdie is ook 'n kans vir ons om ander boere te ontmoet waar kennis gedeel word en in ons wêreld, leer jy elke dag iets nuut. Die honderde verskillende duiwerasse maak dié sportsoort ook soveel interessanter want die kanse is goed dat jy elke keer verskillende duiwe op skoue te sien sal kry," het Bell gesê.
Evan Bell se mookee-ras het die prys vir beste junior duif verower.
Vertoners het so ver as Kaapstad gekom.
Jas van Niekerk was een van die hoofbeoordelaars.
Die Mookee-ras van Evan Bell wat as die beste junior duif gekroon is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’