OUDTSHOORN NUUS - "Ons is ook in die huis gyselaar gehou en Enver het my ook probeer aanrand."
So vertel Ashley Campher, die suster van Enver Campher wat van poging tot moord op Natasha Mei aangekla word.
Enver het Mei einde Augustus vir dae in sy suster se huis in Bongolethu gyselaar gehou.
Hy het haar gemartel en aangerand tot inwoners van Bongolethu uiteindelik drie dae later die deur oopgebreek het om Mei te bevry.
Ashley Campher en Hermanus Jullies
Campher sê sy en haar seun, wat gestremd is, sowel as haar vriend, Hermanus Jullies, het in Bongolethu gewoon toe die voorval plaasgevind het.
"Die Vrydagaand voor die voorval wou Natasha en Enver al na my toe kom. Ek het 'n draai gaan stap tot ek gedink het hulle is weg, maar toe ek in die pad opkom het hulle nog steeds by my voordeur gesit.
"Ek het omgedraai en my neef gaan haal om hulle te verwyder.
Saterdag het Enver eenvoudig net by my voordeur ingestap en, soos gewoonlik, kom maak of die plek aan hom behoort."
Volgens Campher het Enver vir Mei begin drank gee.
"Ek was die hele Saterdagaand wakker. Ek het mooi met hulle gepraat en uit Die Bybel uit gelees en gepleit dat hulle op die regte pad moet kom, maar dit was te vergeefs.
"Hy het haar vroeg Sondagoggend begin slaan. Ek het weer gepleit en gesê ek wil nie sulke goed in my huis hê nie. Ek hou nie daarvan dat ander mense in my huis moet kom nie, juis om probleme te vermy.
"Hy het my teen die muur gegooi en my met sy voorarm vasgedruk en gedreig om my ook te slaan. Hy het my geskel en die lelikste woorde geskree."
Volgens Campher het haar broer al met sy aankoms die sleutel uit die voordeur getrek.
Sy het verduidelik dat haar huis twee deure het, maar dat beide deure se sleutels aanmekaar vas is.
"Ek kon nêrens heen gaan nie. Hy het eenvoudig net geweier. Elke keer as ek met hom praat het hy aggressief geraak.
"My kind het 'n aanval gekry toe die dinge in die huis begin lelik raak. Ek weet mense blameer my dat ek niks gedoen het nie, maar ek was self bang.
"Waar ek woon is dit elke mens vir homself en een God vir almal. Die bure het gehoor wat aangaan, maar niemand het kom help nie. Ek kan ook mos nie net by 'n venster uitklim en my kind alleen by hom los nie. Ek het nie geweet wat hy met die kind gaan doen nie.
"Ek besit nie 'n selfoon nie so ek kon niemand bel. Ek het hom ook nie weggesteek vir die polisie nie, hy het self in die kamer weggekruip."
Volgens haar word sy deur die gemeenskap gedreig, sleggesê en veroordeel.
"Ek verstaan nie hoekom nie. Ek kan nie eens in my huis gaan woon nie. Ek het nie vir Natasha aangerand nie, my broer het. Ek wil net weer in vrede in my eie huis gaan woon."
Campher sê sy praat glad nie wat haar broer gedoen het goed nie.
"Hy moet in die tronk bly. Hy kon Natasha doodgemaak het. Hy het 'n geskiedenis van geweld, hy het my ook al met 'n bord in my gesig geslaan.
"Hy is ook met 'n interdik uit my pa se huis gesit. Hy is 'n geweldenaar en moet boet vir wat hy gedoen het."
Volgens haar was sy telkemale by die polisie om te kla oor haar broer se gedrag en oor die feit dat hy net by haar huis inkom en dan nie weer wil loop nie.
Jullies sê hy werk as nagwag vir 'n sekerheidsmaatskappy.
"Ek het in die oggende by die huis gekom en saans weer gaan werk. Sondag toe ek by die huis kom het ek gesien wat gebeur het, maar my selfoon was stukkend. Ek kon niemand bel nie.
"Ek het vir Ashley gesê ons moet polisiestasie toe gaan, ek sal saam met haar stap, maar ek het regdeur Maandag geslaap tot amper voor ek moes gaan werk."
Volgens hom het hy ook al die polisie gebel om Enver te verwyder.
"Dit was drie maande voor die groot aanranding. Hy het ook by Ashley se plek aangekom en Natasha was lelik aangerand.
"Ek het die polisie gebel en toe hulle kom het hy vir hulle gesê dis ander mense wat haar aangerand het en hy het bloed op sy hande, want hy het probeer keer.
"Sy het self nog vir die polisie probeer sê dat dit eintlik hy was. Die polisie het met hom gepraat en haar dokter toe geneem. Enver is skellende weg by die huis.
"Hy het 'n rukkie later mense na my werks-plek toe gestuur wat my gedreig het en gesê het hulle gaan my doodmaak as ek weer so iets aan Enver doen. Ek het self kinders. Hoe moet hulle verstaan as hulle pa dood is omdat hy iemand anders se gemors probeer regmaak het."
Volgens Jullies het hy vir Campher gesê hy wil nie meer by Enver se geweld betrokke wees nie omdat hy vrees vir sy eie lewe.
Campher en Jullies, sowel as Campher se seun, moes na die voorval ander heenkome soek omdat die gemeenskap gedreig het om hulle aan te rand as hulle weer na die huis in Bongolethu terug keer.
"Dit is maklik vir mense om ons te oordeel oor wat gebeur het. Hulle weet nie waardeur ons voor die tyd is nie."
Natasha Mei
Mei is verlede week, 'n maand na die voorval uit die hospitaal ontslaan. Haar gesig is steeds geswel en sy het drade in haar mond.
Haar kakebeen is tydens die aanranding gebreek. Sy sukkel ook om te loop.
Elmarencia van Hansen, Mei niggie sê dit gaan beter met Mei.
"Sy sukkel om te eet en te praat. Sy het brandwonde op haar lyf waar sy met iets gebrand is. Sy onthou nie alles wat in die voorval gebeur het nie."
Lees vorige artikels:
• Opvolg: vrou gemartel en aangerand
• Opvolg: vrou aangerand en gemartel
• Poging tot moord-klag uitgestel
• Vrou vir dae gemartel en aangerand
ARTIKEL EN FOTO: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'