OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat daar die afgelope naweek meer misdrywe aangemeld is as die eerste naweek van verlede maand.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, kom daar elke naweek aanrandings voor, maar was daar dié naweek definitief 'n toename in misdade.
"As ons gaan kyk na die aanmelding in vergelyking met die eerste naweek in September is dit definitief meer. Ons moet ook in ag neem dat dit die begin van die maand was en dat dit in meeste gevalle 'n invloed op misdaad het. Die beskikbaarheid van drank het ook 'n rol gespeel in die styging van misdaad."
Drie van die ernstiger voorvalle wat die afgelope naweek plaasgevind het was 'n moord op 'n 25-jarige man, 'n tref-en-trap waarin 'n 34-jarige man dood is en 'n ernstig trompopbotsing waarin mense beseer het.
Volgens Visser was die eerste voorval Saterdagaand toe 'n botsing tussen twee motors om 21:45 plaasgevind het.
"'n Toyota Corolla en 'n Hyundai het in die omgewing van die volstruisslaghuis reg van voor met mekaar gebots. Die beseerdes is na die hospitaal geneem en 'n klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek."
Die botsingstoneel waartwee voertuie mekaar Saterdagaand in Dassieweg reg van voor getref het.
Die tweede voorval was die tref-en-trap in Rossouwstraat waarin Bevon Januarie oorlede is.
LEES: Man sterf in tref-en-trap
Visser sê die verdagte in die voorval is nog nie in hegtenis geneem nie en 'n klag van strafbare manslag word ondersoek.
Kort na Januarie se ongeluk is Chad Phillip Pass (25) in Asterhof met 'n mes doodgesteek.
Volgens Visser is Pass na die hospitaal geneem waar hy later oorlede is. Hy is na bewering verskeie kere met die mes gesteek.
"Die verdagte is die volgende dag in hegtenis geneem en sal die week in die hof verskyn."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'