OUDTSHOORN NUUS - Sy dood is vir ons regtig onwerklik en sy seuntjie soek vreeslik na hom.
So sê Bevon Januarie (34), wat die afgelope naweek in Rossouwstraat doodgery is, se vriendin, Monique Pietersen, en ma van sy amper tweejarige seun.
Pietersen sê sy was die Saterdagaand, toe die ongeluk gebeur het, saam met hom gewees.
"Bevon het nog Saterdag mense vir 'n begrafnis gery en daarna het ons die rugby gaan kyk by 'n kuierplek naby die plate. Ons woon na aan die kuierplek, so ons het sommer geloop."
Volgens haar het hulle ongeveer 22:00 die aand huis toe gestap. Die tref-en-trap het op pad na hul huis gebeur.
"Ek was nog besig om met hom te gesels. Ek het langs hom geloop. Hy het nie geantwoord nie en toe ek omdraai om te kyk hoekom nie toe lê hy langs my. Ek het die wit BMW van agter af gesien en skree dat hy moet terugkom want hy het nou net iemand doodgery, maar hy het net aangery."
Pietersen sê sy is nog steeds nie seker presies hoe die ongeluk gebeur het nie.
"Ek was dan reg langs hom. Ek het nie die slag gehoor nie en ook nie die kar sien kom nie. Ek het net skielik gesien hier lê hy in die straat. Hy is opslag dood."
Pietersen sê haar seun roep nou in die aand na sy pa.
"Bevon en ons seuntjie, Tyler, was baie na aan mekaar. Hulle het als saam gedoen. Ek weet regtig nie hoe om aan hom te verduidelik dat pappa nie weer gaan huis toe kom en met hom speel nie."
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en dat die polisie 'n klag van roekelose en nalatige bestuur en strafbare manslag ondersoek. Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'