LADISMITH NUUS - 'n Student van Ladismith wat op Riversdal studeer is verlede Donderdag, 27 Februarie, enkele ure na haar oom ook in 'n ongeluk dood.
Maronique Hendricks(18) en haar oom, pastoor Barend Julius (50) het verlede week in twee afsonderlike voertuigongelukke omgekom.
Julius is dood toe die Land Rover waarin hy 'n passasier was, Donderdagoggend ongeveer 20 km buite Oudtshoorn op die R62 omgeslaan het. Twee ander insittendes is ernstig beseer, Julius se kleindogter was ook 'n passasier in die voertuig, maar het net ligte skraapwonde opgedoen. (Oudtshoorn Courant 28 Februarie).
Dieselfde middag was Hendricks en nog 'n student, Elicha Stuurman (18), agterop 'n oop Bantam-bakkie vanaf Riversdal na Ladismith onderweg toe die bakkie omgeslaan het, Hendricks het aan haar beserings beswyk.
Sy was 'n student by Suid-Kaap Kollege se Riversdal-kampus waar sy 'n oorbruggingskursus gevolg het om onderwys te gaan studeer. Stuurman is met veelvuldige beserings na die George-hospitaal oorgeplaas.
Volgens Fiela Hendricks, Maronique se ma, het sy begin bekommerd raak toe sy na herhaalde oproepe na Maronique se foon, geen antwoord kry nie. Sy was onrustig aangesien die familie vroeër die dag die tyding van Julius se dood gekry het.
Pastoor Barend Julius het verlede Donderdagoggend in 'n ongeluk tussen Oudtshoorn en Calitzdorp omgekom. By hom is sy kleindogter Anique wat ook in die ongeluk was, maar slegs skraapwonde opgedoen het. Foto verskaf
Sy het toe verneem dat haar dogter in 'n ongeluk was en weens die erns van haar beserings na die George-hospitaal geneem is, maar beswyk het. Maronique se stem is al wat Fiela het om aan vas te klou.
Opgewonde oor die vooruitsig om huis toe te gaan het Maronique voor haar dood vir haar ma die volgende stemboodskap gestuur: "Ek mis mammie so baie, een van die dae is ek by mammie, nog net 'n klein rukkie mammie."
"Sy was my maatjie," sê Fiela oor haar dogter, "Ons kon lekker gesels en sy het belowe om my lewe makliker te maak, wanneer sy sou begin skoolhou. 'Dan moet mammie ophou werk en nie meer nagte by die vulstasie te werk nie' het sy belowe."
Op Facebook skryf haar vriendin, Wendy Sampson: "Theo, jy was nog so jonk, ons laaste gesprek was toe ons ons toekomsplanne bespreek het..My hart is verpletterd. Eks stukkend, jou merk is gelaat in my lewe."
Begrafnisreëlings is aangepas rondom die begrafnis van pastoor Julius. Die roudiens sal Vrydagaand in Mossiestraat wees en die begrafnis Saterdag vanuit die skoolsaal van Ladismith Sekondêr.
Die tyd was teen druktyd nog nie bevestig nie.
Die ongelukstoneel op die R62 waar pastoor Barend Julius verlede Donderdagoggend gesterf het. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'