Update
OUDTSHOORN NUUS - Spring Roses het die afgelope naweek hul kanse verstewig om die uitspeelrondes te haal deur Oudtshoorn-rugbyklub met 18-8 te klop. Die rustydtelling was 13-0 in Roses se guns.
Roses het dit Saterdag egter nie maklik gehad nie. Hulle moes alles uithaal om 'n begeesterde Oudtshoorn-span te klop. Die wedstryd het by tye skitterende hardlooprugby opgedis.
Roses het eerste bloed geruik met 'n drie deur die stut, Denzil Belelie. Hy is na 'n kraglopie met 'n paar verdedigers op sy rug in die hoekie oor na goeie spel deur Roses. Dillan van Vuuren het net voor rustyd Roses se tweede drie gaan druk.
Na rustyd het Oudtshoorn met 'n drie en 'n strafskop terug geslaan. Roses se kaptein, Morné Basie, het egter die wedstryd vir Roses met 'n skitterende drie verseël. Goeie verdediging deur Oudtshoorn het Roses van 'n bonuspuntdrie weerhou.
Onder die voorspelers het Basie, Belelie, Ursheon Flink, Elton Oosthuizen, Heinrich Erasmus en Riaan van Wyngaardt hul harte uitgespeel. Agterlangs was Sedrick Esau, Domenic Smit, Conroy Tiemie en Jeremy Julies vir Roses goud werd.
Heinrich Erasmus (Spring Roses) voer 'n plettervat op Clifton Claassen uit. Foto's: Ebenezer Titus
Driedrukkers vir Roses was, Belelie, Van Vuuren en Basie. Claude Fortuin het 'n strafskop bygedra.
Roses se B-span wat die eerste plek in die Presidentliga beklee het hulle eweknieë van Oudtshoorn met 34-20 verslaan.
Lees 'n vorige artikel: Spring Roses sterk op pad na uitspeelrondes
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'