OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Dysselsdorp was Dinsdag geskok na 'n erg ontbinde liggaam in die kanaal gevind is.
Gerugte het ook die ronde gedoen dat daar moontlik twee lyke in die kanaal gevind is. Dit blyk egter dat die verwarring ontstaan het weens die feit dat die geslag van die liggaam nog nie vasgestel is nie.
Volgens inligting wat Oudtshoorn Courant bekom het, het twee mans glo Dinsdagoggend by die kanaal gaan visvang en het toe op die liggaam afgekom. Die mans het die polisie in kennis gestel.
George Meyer, 'n gemeenskapsaktivis in Dysselsdorp, het gesê dat misdaad in dié dorp besig is om die oorhand te kry.
"Ons het definitief 'n te kort aan polisiebeamptes in die dorp. Dit was 'n geweldige skok vir ons as inwoners om die persoon daar te sien. Dit het gelyk of hy of sy dalk al 'n hele rukkie daar was. Ek wil 'n beroep op die gemeenskap doen om misdaad en vermiste persone so gou moontlik aan te meld sodat ons misdaad in ons dorp kan hokslaan."
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die Dysselsdorp-polisie 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen.Die gemeenskap kyk toe hoe die liggaam verwyder word.
"Die insident het Dinsdag 19 April omstreeks 11:45 plaasgevind toe 'n lid van die publiek langs die kanaal gestap het en 'n liggaam in die water sien dryf het. Die polisie is in kennis gestel en die liggaam is uit die water verwyder."
Volgens Spies sal die oorsaak van die persoon se dood en geslag later die week bekendgemaak word sodra die lykskouing afgehandel is.
Enigiemand met inligting rakende 'n vermiste persoon in die omgewing kan die Dysselsdorp-polisie by 044 251 8403 skakel.
Vorige Artikel: Liggaam in kanaal in Dysseldorp gevind
Die ontbinde liggaam wat nog in die water gedryf het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'