OUDTSHOORN NUUS - Die 16-jarige seun wat op 23 Julie deur die polisie met 'n traangasgranaat geskiet is, is verlede week ontslaan en sterk tans by die huis aan.
Juan-Pierre Saptou het die week aan die Oudtshoorn Courant gesê hy is dankbaar dat hy geen permanente skade het nie.
Die voorval het drie weke gelede gebeur toe die polisie 'n man in 13de Laan vir die besit van Mandrax en dagga gearresteer het.
Die inwoners van dié straat het oproerig geraak waarna die polisie die groep mense met traangas en rubberkoeëls uitmekaar gejaag het. Op daardie stadium was Saptou by 'n vriend se huis in 15de Laan.
"Ek het by die erf uitgestap en gesien daar is mense wat in die straat hardloop. Om dit te vermy het ek weer teruggegaan in die huis. Toe dit rustig raak het ek weer uitgestap en dis net toe ek by die hekkie uit is wat die polisie skiet. Daar is glo nog iemand in die been getref voordat ek raakgeskiet is."
"Al wat ek onthou is dat ek probeer wegkom het en dat 'n hond my ook nog gejaag het. My vriend, by wie ek gekuier het, het uitgekom om my te help. Die hond het op my gespring en ek en my vriend het saam teen die hond baklei. Daarna moes ek seker my bewussyn verloor het. Ek het 'n week later in Kaapstad in die hospitaal wakker geword," het hy gesê.
Saptou sê vriende en familie het hom vertel dat hy deur sy vriende na hul huis is 16de Laan gedra is en dat hy met 'n ambulans hospitaal toe is. Hy is daarna per helikopter na Kaapstad.
Sy ma, Charlene Africa, sê sy het geen woede in haar hart oor die voorval nie.
"Ek was vir 'n rukkie kwaad en deurmekaar na dit gebeur het, maar ek het baie rustigheid in my hart gekry. My seun het 'n tweede kans gekry. Ek kon sien hoe gebed hom hierdeur gedra het. Wat my die seerste gemaak het is dat niemand van die polisie na my toe gekom het en gesê het, mevrou ons is jammer oor wat met jou seun gebeur het nie. As dit 'n ongeluk was moet iemand mos jammer sê. Daarom voel ek die gereg moet sy gang gaan," het sy gesê.
Africa sê dit is vir haar 'n groot verligting dat haar seun terug is by die huis.
Juan-Pierre sê hy het sy boetie (2) en sussie (7) baie gemis.
"Ek het by hulle gaan inkruip toe ek by die huis kom. My boetie was so 'n bietjie verward toe hy wakker word en sien dis ek, maar nadat hy agtergekom het dis ek was hy vreeslik bly om my te sien. My sussie was bang vir my. Sy wou nie by my sit nie en sy was bietjie huilerig omdat sy bang was sy maak my seer. My ma-hulle het mooi met haar gepraat en vir haar verduidelik dat ek okay is. Ek het ook mooi met haar gepraat, so sy is nou baie gemakliker," vertel hy.
Die sny oor Saptou se oogbank is nog duidelik sigbaar. Sy oog is steeds opgeswel en daarom kan hy steeds nie uit sy linkeroog sien nie. Hy sê egter dat hy, as hy sy ooglid optel, wel kan sien waaroor hy baie bly is, want dit beteken die oog is nie in die voorval beskadig nie. Aan die regterkant van sy kop is daar ook 'n sny waar die dreineringspyp in was.
"Die dokter het my kop aan die eenkant opgebou en nou voel dit bietjie harder as aan die anderkant. Dit is 'n vreemde gevoel. My bene voel lam en seer, ek is nie seker van wat dit is nie en soms is die pyn erger as ander kere. Verder is ek fine. Ek gaan Donderdag terug skool toe," het hy skaam vertel.
Africa sê sy wil graag haar kind vir berading neem.
"Ek dink onder omstandighede gaan dit goed met hom, hy is net bietjie onrustig met tye, maar dis alles goed waaraan ons kan werk. My kind is gesond en het geen permanente skade nie. Dis al waarvoor ons dankbaar is."
Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het bevestig die klag van poging tot moord word ondersoek.
ARTIKEL & FOTO: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'