Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n voormalige onderwyser van 'n skool op Oudtshoorn wat teregstaan op twee seksuele klagtes is verlede week na die getuienis van die klaer tot 23 September uitgestel.
Die 48-jarige Eugene Hufke word daarvan aangekla dat hy tussen Julie en September 2017 'n 18-jarige leerder seksueel probeer skend het en op 11 September 2017 wel seksueel geskend het.
Hy pleit onskuldig op beide aanklagte. Hufke se regsverteenwoordiger, adv. Stephen Lourens, het dit aan die klaer gestel dat haar getuienis onder kruisverhoor verskil van haar hoofgetuienis. Sy het glo getuig dat sy alles wat die betrokke dag in die klaskamer van die beskuldigde gebeur het, aan die hoof oorgedra het.
Onder kruisverhoor het inligting egter aan die lig gekom wat, volgens Lourens, nie in die hoof se verklarings verskyn nie.Oor die klaer se getuienis dat die beskuldigde gesoen het wou Lourens weet waarom sy nie sy tong gebyt, geskree of haarself verdedig het nie.
Volgens Lourens sal Hufke ontken dat hy die klaer in sy klaskamer betas en gesoen het. Hy het haar net aan die skouer gevat en 'n drukkie gegee omdat sy een van die slimste leerders was. Dit was ook net die klaer se vriende wat kom getuig het.
Hy sal ook ontken dat hy ooit met 'n bakkie by die skool was soos wat die klaer getuig het.
Lourens het dit aan die klaer gestel dat sy nie die waarheid in die hof vertel nie en dat haar weergawe so onwaarskynlik is dat geen hof dit kan glo nie.
Die staatsaanklaer, Tuba Nyamate het beswaar aangeteken teen die wyse waarop Lourens sy kruisondervraging doen maar is deur die landdros tereggewys.
Die saak word deur landdros Theolin November aangehoor en is vir verdere getuienis uitgestel tot 23 September uitgestel.
Hufke se borgtog van R500 en borgtog-voorwaardes is tot dan verleng.
Lees vorige artikels:
- Oud-onnie betaal nie regsman
- Oudonderwyser betas leerders
- Oudonderwyser skuldig aan seksuele aanranding
- Oud-onnie in hof na leerder kla
- Oud-onnie in hof op seksuele klagte
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'