Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n voormalige onderwyser by 'n bekende skool op Oudtshoorn wat teregstaan op twee seksuele klagtes is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof uitgestel omdat hy nie sy finansiële verplig-tinge teenoor sy regsverteenwoordiger nakom nie.
Eugene Hufke (48) word daarvan aangekla dat hy tussen Julie en September 2017 'n 18-jarige leerder seksueel probeer skend het en op 11 September 2017 wel seksueel geskend het. Hy pleit onskuldig op beide aanklagte.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Stephen Lourens, het die hof meegedeel dat hy hom aan die saak onttrek waarop landdros Theolin November die beskuldigde behoorlik uitgetrap het omdat hy die saak vertraag.
Dit is die tweede keer dat so-iets gebeur nadat 'n vorige regsverteenwoordiger hom aan die saak onttrek het.
Die landdros het Hufke gewaarsku dat dit nie reg is teenoor die klaagster wat nog onder kruisverhoor is nie, en dat dit die laaste keer is dat daar 'n kinkel in die kabel kom.
"U kan nie elke keer die hof se tyd kom mors nie," het die landdros aan Hufke gesê en hom gewaarsku om sy sake in orde te kry vir sy volgende verskyning op 12 Junie.
Hufke se borgtog en borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
Lees vorige artikels:
- Oudonderwyser betas leerders
- Oudonderwyser skuldig aan seksuele aanranding
- Oud-onnie in hof na leerder kla
- Oud-onnie in hof op seksuele klagte
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'