Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - Sydwell Muller, agtsteman van die All Blacks-rugbyklub in Oudtshoorn, wat op die rugbyveld aan vermoedelik 'n hartaanval gesterf het, was 'n orgaanskenker en het danksy sy organe vir ses mense 'n beter lewe gegee.
"Jesus het sy lewe gegee sodat ons kan leef. Sydwell skenk sy organe sodat ander mense 'n beter lewe kan lei. Kom ons almal dink aan orgaanskenking."
FOTOGALERY: Sydwell Muller leef voort deur organe wat geskenk word
Dit was Saterdag die beroep van ds. André Boesak aan die begrafnisgangers in die stampvol Verenigende Gereformeerde Kerk tydens die begrafnisdiens van Muller.
Die 34-jarige Muller het op Saterdag 14 Oktober op die rugbyveld in Sedgefield gesterf in sy span se wedstryd teen Sedgefield Eagle Stars.
Boesak het Muller se familie na aanleiding van Johannes 19:33 en Romeine 8:29 getroos en gesê hy kan nie onthou wanneer laas die kerk so vol was nie.
Die voorsitter van All Blacks-rugbyklub, Damon Gysman, het feitlik almal in trane gehad met sy emosionele huldeblyk toe hy self onbedaarlik begin huil het. Hy het Muller as 'n lieflike respekvolle persoon beskryf en iemand wat net wou help.
Hy was 'n toegewyde rugbyspeler wat nooit sy klub in die steek wou laat nie.
Die president van die SWD-rugbyunie, Ben Brinkhuis, het namens die unie meegevoel aan Muller se familie betuig en gesê dit was die eerste keer in twintig jaar dat iemand in die streek sy lewe op 'n rugbyveld verloor. "Dit voel vir my asof ek 'n seun verloor het," het Brinkhuis gesê.
Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor die rugbyklubs, Bridgton, Harlequins, Collegians, Adias en Spring Roses asook Sedgefield Eagle Stars, wat die diens bygewoon het.
Muller was, volgens sy broer, Rodney Gelant, 'n opregte omgeemens wat in sy kort leeftyd soveel mense met sy mooi persoonlikheid aangeraak het.
Muller se laaste oorskot is na die diens beurtelings in die reën deur klublede van die onderskeie rugbyklubs na 'n wagtende lykswa 'n ent weg van die kerk gedra. Hy is die week tydens 'n privaat geleentheid veras.
Hy word oorleef deur sy ma, Christine Muller, 'n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit, twee broers, Randall en Rodney, 'n suster, Lee-Ann, sy meisie, Nikayla van Niekerk en hul baba van jonger as 'n maand.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’