Update
OUDTSHOORN NUUS - Meer as 'n week nadat inwoners hulle misnoeë met die stink water van die Grobbelaarsrivier by die hangbrug, te kenne gegee het, blyk dit dat die probleem steeds nie opgelos is nie.
Twee plakkate wat by die hangbrug en langs 'n stormwaterpyp geplaas is en intussen verwyder is het die twee plekke herdoop na Stinkfontein en Vrotwaterfontein. Die Oudtshoorn Courant het reeds in April en Mei berig oor besoedelde water wat met 'n stormwaterpyp langs van die militêre basis kom en in die rivier beland.
By tye, soos wat hierdie week die geval is, vergader die besoedelde water in 'n groot poel pikswart water wat vreeslik stink en met die water van die Grobbelaarsrivier meng en stroomaf loop.
Watermonsters wat in Meimaand vir ontleding aan 'n laboratorium gegee is, het hoë vlakke van besoedeling getoon. Pogings deur die plaaslike sowel as die distriksmunisipaliteit, om die oorsprong van die water in die militêre basis op te spoor en te keer was tot dusver nie sukses vol nie.
In antwoord op 'n navraag aan die Oudtshoorn-munisipaliteit verlede week is 'n reaksie vanaf die Garden Route-distriksmunisipaliteit aan die koerant gestuur. Volgens die reaksie sê Johann Smith, senior omgewings- en gesondheidspraktisyn van die distriksmunisipaliteit, "Majoor Gerber van die weermag het bevestig dat daar verstoppings in die basis is en dat hulle sukkel om dit op te los. Die weermag sal 'n watertrok beskikbaar stel om die pyp en rivier te spoel."
Teen hierdie week was daar nog geen teken dat die pyp of die rivier gespoel is nie. Wat inwoners verder bekommer is dat die besoedelde water daagliks saam met die rivier se water stroomaf spoel en sodoende die besoedeling versprei. Kort na die besoek van die Oudtshoorn Courant aan die rivier Dinsdag, het munisipale werkers begin om die rommel wat ook op verskeie plekke in die river opgaar, te verwyder.
Dir rooi pyl dui die plek aan waar besoedelde water op 'n daaglikse basis in die Grobbelaarsrivier beland. Foto's: Hannes Visser
'n Navraag oor die kwessie is hierdie week weer aan die munisipaliteit gestuur. 'n Mediavergadering is vir vanoggend belê om die kwessie te bespreek.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'