Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Inwoners en besoekers het hierdie week opnuut gekla oor die vlak van besoedeling in die Grobbelaarsrvier langs die historiese hangbrug.
Die Oudtshoorn Courant het reeds in Meimaand berig oor besoedelde water wat by 'n pyp, wat vanaf die weermagbasis kom, in die Grobbelaarsrivier uitloop.
Verskeie ondernemings deur die weermag en die munisipaliteit om dringend aandag aan die situasie te gee het tot dusver op niks uitgeloop nie. Die teendeel is waar aangesien die huidige besoedeling erger lyk as wat die geval in Mei was.
Die Oudtshoorn Courant het in Meimaand die besoedelingsvlakke van die water laat toets en volgens 'n laboratorium was die vlakke té hoog om plaaslik getoets te word.
Volgens 'n skrywe wat verlede week van Johann Smith, Senior omgewings- en gesondheidpraktisyn van die distriksmunisipaliteit ontvang is, het Majoor Gerber van die weermag bevestig dat daar verstoppings in die basis is en dat hulle sukkel om dit op te los.
Die weermag sou 'n watertrok beskikbaar stel om die pyp en rivier te spoel, maar dit het nog nie gebeur nie.
Munisipale werkers was gister by die rivier om rommel wat in die rivier lê, uit te haal.
Kyk 'n video hieronder.
'n Foto van die besoedelde water wat reeds in Meimaand geneem is.
'n Munisipale werker verwyder rommel uit die rivier waar die swart besoedelde water duidelik sigbaar is.
Lees 'n verwante artikel: Besoedelde water steeds 'n probleem
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'