Update
LEEU-GAMKA NUUS - Die Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, sê die rioolvuil wat die lewe van inwoners van Leeu-Gamka nou al maande lank onhoudbaar maak, is 'n skande.
Sy lê die skuld hiervoor voor die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit wat halwe werk gedoen het, nie die Nasionale Omgewingsbestuurswetgewing nagekom het nie en ook nie die wetlik voorgeskrewe verkrygingsprosesse gevolg het nie.
Fernandez het die dorpie vroeër in Augustus besoek en vertel hoe dit gebuk gaan onder 'n onhoudbare stank en onhigiëniese toestande.
"Nadat ek daar was, het ek gevoel ek moet gaan bad om die stank van my af te kry," het sy aan Oudtshoorn Courant gesê.
Sy en haar span was weer op 15 Augustus daar.
"Dis duidelik dat die burgemeester die kontrakteur gevra het om sommige van die kwessies reg te stel wat ons ná ons eerste besoek belig het. Die poging om die rioolbesoedeling te herstel, was egter onvolledig en die gebied ly steeds hieronder – dis 'n gesondheidsrisiko en 'n oortreding van omgewingswetgewing."
Volgens haar is die pogings om die oop dreine en riool-infrastruktuur te bedek heeltemal onvoldoende en handhaaf nie algemeen aanvaarde standaarde nie.
"Daar is ook geen teken van gehaltebeheer nie. Daarby kraak die sement van een van die dreineringspype en sommige word met klippe gestut. Nog 'n drein lek riool tot in 'n rivier en ook na ondergrondse natuurlike hulpbronne. Die ergste is dat gesondheids-, veiligheids- en omgewingsprotokol geïgnoreer is sedert die onwettige poging tot herstelwerk hier. Kinders speel nog steeds naby die gemors, want dis nie afgesper nie."
Volgens haar het die distriks-munisipaliteit se burgemeester, Gayton McKenzie, 'n brief van die Prins Albert-munisipaliteit – waaronder Leeu-Gamka val – geïgnoreer wat hom opdrag gegee het om die regte verkrygingsproses te volg en om goedkeuring te kry vir konstruksieontwerpe, tegniese ontwerpverslae sowel as die indiensneming van 'n geakkrediteerde kontrakteur.
"Voorts het my ondersoek getoon die burgemeester het die projek begin sonder die goedkeuring van die Prins Albert-munisipaliteit, dat geen finansiering deur die munisipaliteit aan die projek toegewys is nie, dat die werk wat gedoen is hoegenaamd nie aan standaardspesifikasies voldoen nie, en dat dit 'n gesondheids-, veiligheids- en omgewingsrisiko inhou omdat dit nie aan minimumvereistes voldoen nie."
Nog 'n probleem, volgens Fernandez, is dat die grond wat deur die gemors geraak word, aan Transnet behoort.
"Die Prins Albert-munisipaliteit het Transnet nou al verskeie kere versoek om die stuk grond aan dié munisipaliteit oor te dra, maar Transnet het tot nou op geen korrespondensie gereageer nie."
Fernandez het by navraag gesê sy sal nié die saak daarlaat om hierdie "mislukking van epiese omvang" reg te stel nie.
McKenzie het navrae na sy Facebook-inskrywing op 10 Augustus verwys. Volgens hom was dit net 'n pyp wat gebars het en dit is herstel.
Voorts wás hy op die perseel, sê hy, sowel as 'n kontrakteur, "en die werk is deur lede van die gemeenskap gedoen en sal in die toekoms óók deur lede van die gemeenskap gedoen word".
Met verwysing na Fernandez en die DA se verklaring het hy gesê hulle het geen skaamte nie. "Dit het julle nie gepla toe ons mense emmertoilette gebruik het nie. Nou roep julle die media oor 'n gebarste pyp. Die verklaring is laag, baie laag. Ons kan nie wag vir die tussenverkiesing om julle uit jul magsposisie te verwyder nie."
Die rioolprobleem is nogsteeds nie opgelos nie:
Vorige artikel: 'Riool-probleem McKenzie se skuld'
'Ons bring jou die nuutste Leeu-Gamka, Klein Karoo nuus'