OUDTSHOORN NUUS - Die KKNK se ReWOLusie-span vanjaar vir die tweede keer kragte saam met die Oudtshoorn Rotariërs om 'n verskil in die lewens van kleuters uit die Oudtshoorn-omgewing te maak.
Die Oudtshoorn Rotariërs Krismisboks-projek poog jaarliks om 'n glimlag op die gesiggies van kleuters in en om Oudtshoorn te sit. Lezelma Pretorius, organiseerder namens die Oudtshoorn Rotariërs, sê hulle Krismisboks-projek het in 2015 begin en deel jaarliks bokse aan minderbevoorregte kleuterskole in die Oudtshoorn-distrik uit.
Gebreide of gehekelde wolspeelgoed, wat met baie liefde deur die ReWOLusie-vrywilligers gemaak is, word by dié Krismisbokse ingesluit.
Tientalle breiers vanoor die Suid-Kaap kom reeds sedert
10 September byeen om mekaar by te staan met verskillende patrone om pragtige beertjies en ander speelgoed te brei en hekel. Pretorius sê alhoewel die kinders altyd opgewonde is oor die bokse, wou hulle graag iets spesiaal soos 'n speelding bysit. "Ek het in 2021 begin hekel en gedink dit sal wonderlik wees om vir elke kleuter 'n sagte speelding te gee. Madeleine Miles, ReWOLusie-stigter, het voorgestel dat ek die KKNK en ReWOLusie nader, aangesien hulle reeds 'n groot groep vlytige dames het wat kan hekel en brei. ReWOLusie se rol by die Krismisboks-projek is onvervangbaar. Ons kon verlede jaar danksy ReWOLusie 550 beertjies uitdeel. Dit het ons verwagtinge totaal oortref. Sonder hulle sou ons dit beslis nie met soveel sukses kon aanpak nie."
Daar is vanjaar reeds meer as 800 beertjies gebrei en gehekel.
Alle wol speelgoed was teen 30 November by die KKNK se kantoor ingehandig en vrywilligers het op Vrydag 25 November vir 'n laaste keer bymekaar gekom om die jaar op 'n sosiale noot af te sluit en finale afronding en hulp vir die beertjies te gee.
Dié beertjies en Krismisbokse word op 8 en 9 Desember by kleuterskole in die streek uitgedeel. Wol vir dié projek is geskenk deur Wilck Wolwinkel op Oudtshoorn.
Die beertjies wat uitgedeel gaan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'