Gallery Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Dwelms met 'n straatwaarde van meer as R500 000 is Dinsdag tydens 'n groot polisie-operasie wat langer as drie ure geduur het, by 'n huis in Adderleystraat gekonfiskeer.
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant was daar agt polisievoertuie op die toneel en polisiebeamptes van verskillende eenhede was reeds besig om die huis, buitegeboue en tuin te deursoek.
Volgens inligting wat op die toneel bekom is, word die huis deur 'n buitelander, moontlik van Nigerië, gehuur. Hy woon saam met sy vrou en drie kinders, waarvan twee kleuters is, in die huis.
Sy vrou was nie by die huis toe die polisie op die huis toegeslaan het nie. Sy het wel later by die huis aangekom, maar is nie gearresteer nie.
Die geskokte eienaar van die huis was toevallig op die perseel om herstelwerk te doen toe die polisie met 'n lasbrief by die huis inkom. Hy het op die toneel aan Oudtshoorn Courant gesê hy het nie in sy wildste drome gedink dat die vriendelike paartjie wat die huis huur, moontlik met dwelms deurmekaar is nie.
Kyk 'n video hieronder:
Tydens die deursoeking het die polisie dwelms in die huis, sowel as in 'n Wendy-huis wat op die erf staan, gevind. 'n Groot hoeveelheid kontant is ook gevind. Die hulp van 'n slotmaker is ingeroep om 'n kluis in die huis oop te maak. Ongeveer twee ure nadat die Oudtshoorn Courant op die toneel gekom het, het die polisie met die verdagte in boeie by die huis uitgestap.
Foto's: Dwelmfonds in Oudtshoorn
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Attaqua honde-, misdaadintelligensie- en misdaadvoorkomingseenheid op inligting gereageer en die huis deursoek.
"Ongeveer R50 000 kontant is gevind en die polisie het op 12 pakkies tik, 1 190 Mandrax-tablette en 103 gram kokaïen beslaggelê. 'n 33-jarige man is vir handel in dwelms in hegtenis geneem. Voorlopige inligting dui daarop dat die dwelms in Oudtshoorn verkoop moes word."
Volgens hom is 'n soortgelyke operasie in Bongolethu en Bridgton uitgevoer en is twee persone, een 33 en 35 jaar oud, vir die besit van tik in hegtenis geneem en sal in die hof verskyn sodra hulle aangekla is.
Die verdagte se eerste verskyning is môre in die Oudsthoorn-landdrof.
Die Oudtshoorn Courant volg tans inligting op dat die verdagte voorheen op Oudtshoorn ook vir dwelmverwante klagtes in hegtenis geneem was.
Ao. George Wolmarans met die boks bewysstukke wat in die huis gevind is.
Die huis in Adderleystraat waar die polisie toegeslaan het.
Van die dwelms wat in die huis gevind is.
Van die kontant wat in die huis gevind is.
Vorige artikel: Polisie slaan toe op dwelmhuis
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'