Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - Alhoewel vanjaar se Oudtshoorn Cansa Relay for Life ongeveer 50% minder spanne as verlede jaar gelok het, is daar bykans R80 000 vir die organisasie ingesamel.
Dit is vanjaar die elfde een wat op die dorp aangebied is en Oudtshoorn was ook die eerste dorp in die land wat destyds 'n Relay for Life gehou het.
Volgens Amanda Koen, wat Kansa se fondswerwer is, het slegs 60 spanne teenoor verlede jaar se 120 ingeskryf.
"Ek dink dit is dalk omdat daar die afgelope naweek soveel ander geleenthede in die dorp was, maar ons het nog steeds 800 spanlede en meer as 400 dagbesoekers gekry. Vir hulle sê ons baie dankie."
Die geld wat deur elke dorp se Relay for Life ingesamel word, word in 'n gesamentlike Wes-Kaapse Kansa-fonds gestort waaruit takke weer gefinansier word.
Volgens Koen staar Oudtshoorn Kansa geweldige uitdagings in die gesig.
Ons is net twee mense wat verantwoordelik is vir die hele streek wat Oudtshoorn en nog 17 kleiner dorpe dek.
Die streek strek vanaf Barrydale tot by Willowmore en vanaf Laingsburg tot by Victoria-Wes."
Sy sê dat hulle dringend vrywilligers en skenkers benodig sodat Kansa die werk wat hulle verrig volhoubaar kan aanbied.
Tydens die opening van Relay for Life het twee kanker-oorwinnaars, Poem Mooney en die jong Yolande Nel, vertel hoe Kansa hulle in hulle stryd om die gevreesde siekte te oorwin, bygestaan het.
Nel het 'n beroep op mense gedoen om betrokke te raak by Kansa se projekte.
"Kanker steur hom nie aan ouderdom nie," het sy gesê.
Mense wat by Kansa betrokke wil raak word genooi om Amanda Koen by 044 272 2724 of 071 635 4196 skakel.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'