Update
OUDTSHOORN NUUS - Die nuwe inkomende raadslid van Saamstaan Suid-Afrika, Veronica Michaels, is Maandag tydens 'n spesiale raadsvergadering amptelik as raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit deur eerw. Gregory Gosling ingesweer.
Michaels se aanstelling is reeds vanaf 3 Mei geldig nadat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bevestig het dat die vorige raadslid van Saamstaan Suid-Afrika, Mlandeli Nyuka, nie meer 'n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit is nie.
Michaels is ook as 'n burgemeesterskomiteelid aangestel en sal voorsitter van die gemeenskapsdienste-komitee wees.
Verskeie raadslede waaronder Anel Berry (DA), Barbara Owen (Icosa) en Zoe Tyatya (ANC) het Michaels gelukgewens en haar sterkte toegewens met haar taak op hande.
Burgemeester Chris Macpherson het op sy beurt gesê dat daar tans werklik goeie samewerking tussen al die politieke partye in die raad is aangesien daar konsensus is dat dienslewering en die gemeenskap se belange die raad se prioriteit is.
Dit is ook bekendgemaak tydens die raadsvergadering dat raadslid Raymond Wildschut (DA) nou sal dien as voorsitter van die korporatiewe dienste-portefeulje. Wildschut volg Christine Muller (VF) op wat nie meer op die burgemeesterskomitee sal dien nie.
Speaker Johan Allers (VF) word ondersoek
Allers het aan die raad bekendgemaak dat hy tans intern ondersoek word. Die onderburgemeester het voorgestel dat die aangestelde gedragskomitee (wat uit lede van die DA-koalisie bestaan) die aangeleentheid sal aanhoor en dan hul bevindinge op 'n volgende raadsvergadering aan die raad voorlê. Zoe Tyatya van die ANC het kapsie gemaak en gesê dat die DA-beherende koalisie nie hulself kan ondersoek nie. Na oor en weer debat is besluit dat twee addisionele raadslede by die gedragskode-komitee sal aansluit; een van die amptelike opposisie Suzanne Jansen (PA-lid en ANC-koalsie) en Jerome Lambajeen (DA).
Begroting
Die munisipale raad het ook die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir 2023-2024 finansiële jaar goedgekeur, asook die meerjarige bedryfs- en kapitaalbegroting vir die 2023/24, 2024/25 en 2025/26 Mediumtermyn Inkomste- en Uitgawesraamwerk (MTREF), tariewe, begrotingsverwante beleide.
'n Gedetailleerde uiteensetting van die goedgekeurde begroting sal mettertyd uitgereik word. Die GOP-dokument is op die munisipale webwerf beskikbaar.
Speaker Johan Allers (VF) word tans intern ondersoek.
Links is Zoe TyaTya (ANC) tesame met mede ANC-koalisielede, Abraham Tiemie (ANC) en Colan Sylvester (OGI).
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’