OUDTSHOORN NUUS - "Ons is opgewonde oor die nuwe koalisie en weet as ons saam werk kan ons die dorp tot voordeel van die gemeenskap bestuur en vorentoe neem."
So het die burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Chris Macpherson, Maandag tydens 'n mediakonferensie gesê na hy die nuutgestigte koalisie tussen die DA, Vryheidsfront Plus, Icosa en Saamstaan Suid-Afrika aangekondig het.
Veronica Michaels is reeds sedert 3 Mei Saamstaan Suid-Afrika se nuwe proporsionele raadslid. Macpherson het gesê dat Michaels aangestel is om in belang van die gemeenskap tot die raad by te dra.
Sy sal tydens die volgende Maandag se raadsvergadering seremonieel ingehuldig word.
"Hierdie is 'n formele koalisie. Nie 'n ad hoc-koalisie nie. Ek wil ook nie hê daar moet van 'n DA-koalisie gepraat word nie, maar van 'n Oudtshoorn-koalisie, want dit is waaroor dit gaan. Sy is ook 'n nuwe burgemeesterskomiteelid en haar portefeulje is gemeenskapsdienste."
Schapiro Michaels, Saamstaan Suid-Afrika se president het gesê dat hulle leuse is, ' wat ons sê wil ons sien'.
"Ons wil nie beloftes aan mense maak wat hulle nie kan sien nie. Ons het vooruitsigte vir die dorp en ons het in 'n koalisie getree saam met partye wat ons weet dieselfde vooruitsigte het en ons kan help om van die dorp 'n beter dorp te maak. Ons wil meer positiwiteit in die gemeenskap inbring en 'n beter samewerkingsooreenkoms met hulle aangaan. Ons het die ooreenkoms op grond van stabiliteit gemaak."
Michaels het op haar beurt gesê dat haar liefde vir verpleegkunde haar 'n groot liefde vir die gemeenskap gegee het.
"Hoewel politiek nie eintlik my veld is nie, is my liefde vir die gemeenskap van so 'n aard dat ek weet dat my nuwe politieke loopbaan my gaan help om die gemeenskap te kan dien."
Volgens haar beteken die koalisie nie dat Saamstaan nie saam met ander partye gaan saamwerk nie.
"Ons wil doen wat die beste is vir die gemeenskap. Ons wil die mense se stem laat hoor. Dit is hoekom ons hier in die raad is. Ons wil nie bekendstaan as mense wat net praat nie, ons wil bekendstaan as die party wat doen wat hulle gesê het hulle gaan doen."
Johan Allers, die speaker van die raad, het gesê die Vryheidsfront Plus verwelkom die nuwe vennootskap.
"Nou kan ons die dorp en die gemeenskap op 'n positiewe manier laat groei. Ons is 'n span wat die dorp saam gaan laat vorentoe gaan."
Volgens Vlancio Donson, die onder-burgemeester en Icosa-raadslid, weet hy hulle kan op Veronica Michaels en haar man staatmaak.
"Met die nuwe vennootskap kan die raad meer stabiel wees en stabiliteit bring positiwiteit in die gemeenskap. Dit is waarvoor ons mik. Ons wil nie meer politieke onstuimigheid hê nie."
Schapiro het afgesluit deur te sê dat Saamstaan baie planne vir die dorp het en programme waaraan hulle werk.
"Ons sal die gemeenskap inlig sodra ons manifes klaar saamgestel is, want ons wil eers seker maak wat werklik kan realiseer voor ons beloftes maak. Die gemeenskap moet sien dat ons nie vol leë beloftes is nie."
Agter, van links is Vlancio Donson, Johan Allers en Chris Macpherson. Voor is Veronica Michaels besig om die koalisie-ooreenkoms te onderteken.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’