Gallery
BEAUFORT-WES NUUS - Twee Secunda-polisievroue, adjudant-offisiere Oosie Oosthuizen en Jenny Joubert het ingespring om die watertekort in Beaufort-Wes te verlig.
Marlene Hendriks, woordvoerder vir die Beaufort-Wes-munisipaliteit het Maandag gesê: "Die twee Secunda-polisievroue het in Mpumalanga 150 000 liter water binne twee weke vir Prins Albert en Beaufort-Wes ingesamel."
Oosthuizen het gesê: "Dit is wat ons as polisievroue doen. Ons moet die gemeenskap help. Ons het in ons persoonlike hoedanigheid begin toe ons die waternood in die Wes-Kaap besef."
Hendriks vertel die vroue het ’n kompetisie onder die skole in Secunda begin en 'n prys uitgeloof aan die skool wat die meeste water insamel. "Uiteindelik het 18 skole en die nabye gemeenskap 150 000 liter water ingesamel."
Sasol, Secunda se brandstofreus, het met drie vragmotors die water op Donderdag 1 Maart gratis na Beaufort-Wes vervoer.
Houers vol water word afgelaai.
Oosthuizen sê iemand wat anoniem wil bly, het nog ‘n vragmotor beskikbaar gestel.
Toyota Suid-Afrika en het ook op 16 Februarie van vroeg die oggend water by een van die dorp se bergingsplekke afgelaai.
"Die water is met oop arms deur die Beaufort-Wes se munisipaliteit ontvang en sal in krisistye aan die gemeenskap uitgedeel word.
"Die water sal ook gebruik word in tye wanneer die herwinningsaanleg gediens sal word en sal tydens water onderbrekings aan die gemeenskap voorsien word," het Hendriks gesê.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'