OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie vra dat enige lid van die publiek wat inligting oor die volgende twee misdade het, dringend met Ao Bestbier by 044 203 7508 of 044 203 7518 sal kontak maak.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Die een voorval het in die nag van 21/22 Augustus vanjaar plaasgevind toe ‘n vrou beroof en verkrag is.
Die 30-jarige vrou was op pad na haar vriend se woning nadat sy by ‘n kuierplek was. In die omgewing van die blinkhokke in Rose Valley het iemand haar van agter gegryp en die bosse ingeneem. In die donker kon sy nie die persoon herken nie en het ook nie geweet of daar meer as een was nie.
Sy het die volgende oggend by haar niggie se huis wakker geword.
Sy is beroof van R150 asook oorbele ter waarde van R50.
'n Doktersverslag het bevestig dat sy verkrag is.
Die ander voorval het op 15 Julie vanjaar om 18:00 plaasgevind toe ‘n meisie wat in Vierdelaan Bongolethu geloop het, deur ses onbekende mans gegryp is.
Hulle het haar na ‘n woning geneem waar sy deur een van die mans verkrag is.
Sy kon daarin slaag om te ontsnap voordat sy deur ‘n tweede man verkrag is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'