OUDTSHOORN NUUS - Die landelike blitspatrollie het die afgelope week hard gewerk om die feesseisoen veiliger vir almal in die Tuinroete te maak.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die lede op verskeie geleenthede voertuie afgetrek en dwelms gekonfiskeer.
Op 17 Desember het die lede van die blitspatrollie 'n aftrekpunt op die N12 tussen Oudtshoorn en George beman.
"Die lede het 'n Opel Corsa afgetrek en met die deursoeking het hulle 1 040 gram dagga in een van die deurpanele gevind. Die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem."
In Beaufort-Wes het lede van die blitspatrollie dwelms ter waarde van R920 000 gevind. Spies sê die lede was by die in- en uitgangspunte van die dorp gestasioneer en het 'n vragmotor afgetrek wat na Kaapstad onderweg was. Met die deursoeking is daar 19 345 Mandrax-tablette gevind.
"Die 52-jarige bestuurder is in hegtenis geneem. Die saak word deur die Wes-Kaapse dwelm-eenheid ondersoek."
Op 14 Desember het die lede ook 'n voertuig in die Robinsonpas, tussen Oudtshoorn en Mosselbaai afgetrek.
"'n Swart sak vol dagga (21 kg) is in die voertuig gekry en 'n 39-jarige insittende van die voertuig is in hegtenis geneem."
Die Wes-Kaapse provinsiale bevelvoerder, lt.genl. Thembiseli Patekile, het lede vir hul aksies geloof.
Die Mandrax-tablette wat in Beaufort-Wes gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'