Update
OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn, Martin Noël Pietersen, wie se vonnis van vyf jaar gevangenisstraf in die Kaapse hooggeregshof tot twee jaar verminder is, gaan aansoek doen om ook teen dié vonnis te appelleer.
Pietersen en sy regsverteenwoordiger, adv. Jerome van der Schyff, is van mening dat die regters 'n fout begaan het en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie juis omdat sy getuienis die enigste ware weergawe was in die streekhof op Oudtshoorn, en dat daar geen getuienis voor die hof was wat dit weerspreek het nie.
Die landdros het volgens hulle foutiewelik afleidings gemaak wat nie deur die staat bewys kon word nie en daarom het die hooggeregshof sy getuienis in hof, wat totaal deur die landdros verwerp is, erken en aanvaar.
Die hooggeregshof het op 7 Februarie die skuldigbevinding op drie van vyf aanklagte ter syde gestel en die twee orige klagtes oor die wettigheid en dringendheid van 'n kontrak saamgeneem vir 'n nuwe vonnis.
Landdros Marilyn Cannon het in 2016 bevind dat Pietersen in 2010, nadat hy heraangestel is as munisipale bestuurder van Oudtshoorn, sy posisie misbruik het toe hy 'n konsultasiefirma aangestel het en meer as R2 miljoen tussen van 2010 tot 2011 aan die firma betaal is. Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar nate kom.
Volgens Pietersen het die regters bevind dat hy nie grof nalatig was nie, en in die beste belang van die gemeenskap en met suiwer bedoelings opgetree het om die Oudtshoorn-munisipaliteit reg te ruk.
Oor afwykings sê Pietersen dat dit nie gedoen is sonder die finansiële bestuurder van destyds, Keith Jordaan en top bestuur nie, want hy het agt maande saamgewerk en het toestemming gegee vir die Art. 36 Afwyking van die MFMA regulasies en betalings goedgekeur saam met al die ander bestuurders wat magtiging het om betalings goed te keur en te maak.
"Die stryd om geregtigheid gaan voort en ons gaan nou na die appèlhof in Bloemfontein," sê Pietersen. "Ek het geen geld in my sak gesteek of bedrog gepleeg nie, en ook nie die Oudtshoorn-munisipaliteit se geld verkwis nie, daarom is die drie aanklagte in my guns bevind."
Lees vorige artikels hieronder:
- Voormalige munisipale bestuurder skuldig
- Voormalige munisipale bestuurder word glo belaster
- Voormalige munisipale bestuurder getuig
- Opvolg: Saak teen burgemeester uitgestel
- Pietersen-saak in handelsmisdaadhof
- Sake teen amptenare uitegestel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'