OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die voorneme van die media om albei kante te stel van 'n kwessie tussen Odin (Oudtshoorn Dogs in Need) en die burgemeester ten opsigte van die gebruik van die skut, nie hierdie week gaan realiseer nie.
Colleen Smith, stigter van Odin, het verlede week op Facebook te velde getrek teen die munisipaliteit se besluit dat skutpersoneel glo nie langer met Odin mag saamwerk nie en Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester, het op sy beurt Vrydagmiddag kwessies oor die gebruik van die skut deur Odin aangeraak.
Na 'n kort aanlynberig Vrydag het Oudtshoorn Courant Maandagoggend 'n lys vrae aan Smith en Macpherson gestuur.
Macpherson het Maandag telefonies gesê hy gaan nie in 'n debat betrokke raak deur op die vrae te antwoord nie en volstaan daarby dat die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, gevra is om die gebruik van die skut te ondersoek. Terwyl Smith Maandagmiddag aangedui het dat sy haar antwoorde eers aan Odin se regsadviseur stuur, het sy Dinsdagaand per WhatsApp gesê: "ODIN gaan nie kommentaar.(sic) Our legal representative will deal with your allegations."
Dit is steeds onduidelik presies waaroor die hele debakel op sosiale media gegaan het, aangesien een van die vrae wat nie beantwoord is nie, spesifiek oor die inhoud van die kennisgewing gegaan het.
Diereliefhebbers en lede van Odin was verlede week woedend oor die Facebook-nuus dat skutpersoneel glo nie langer met Odin mag saamwerk nie.
Die plasing is ook deur die gemeenskapsblad Oudtshoorniete Staan Saam wat 85 000 lede het, gedeel en het tot honderde kommentare gelei. Oudtshoorn Courant het toevallig verlede Maandag tydens 'n mediasessie van die burgemeester gevra wat die situasie by die skut is waar tenders aangevra is vir die bestuur van die skut. Macpherson het toe gesê die proses is nog nie afgehandel nie.
Op grond hiervan is die Facebook-plasing van Smith verlede week aan die munisipaliteit vir reaksie gestuur. Die burgemeester het Vrydagmiddag met die media gepraat en verskeie aspekte genoem wat hom bekommer oor die aantal diere wat by die skut aangehou word en kostes wat glo deur die munisipaliteit gedra moet word. Hy het onderneem om Maandag meer detail te verskaf en die media het onderneem om kwessies wat hy aangeraak het met Odin op te neem. Die kwessies is vervat in 'n lang e-pos met sewe vrae wat Maandagoggend aan die burgemeester en Odin gestuur is en waarop albei partye intussen aangedui het dat hulle nie op hierdie stadium gaan reageer nie.
Odin is ongeveer ses jaar gelede op die been gebring toe Smith die skut besoek het om 'n hondjie aan te neem en geskok was oor die toestande wat toe daar geheers het. Juis hieroor, en oor die groot taak wat organisasies soos Odin in die gemeenskap verrig, het verskeie lede van Odin en weldoeners hulle kommer oor die hele kwessie uitgespreek.
Dit blyk dat die meeste van hulle nie presies weet wat die kennisgewing is wat deur Odin ontvang is nie, en voel dat die hele kwessie op sosiale media uit verband geruk is tot nadeel van dieresorg.
Dit is alombekend dat Odin een van die diere-organisasies is wat reusewerk verrig om mishandelde en verwaarloosde diere te red en te hervestig. Dit is ook algemene kennis dat die munisipaliteit die afgelope aantal jare nie daarin kon slaag om sonder die hulp van vrywilligers en organisasies soos Odin en ACT (Animal Care Team) die groot uitdagings van dieresorg in die dorp te hanteer nie.
"Hulle moet maar baklei as hulle wil baklei, ons gaan nog elke dag skut toe om te sorg dat die diere wat daar is, versorg word, want as ons dit nie doen nie, doen niemand dit nie," het een van die vrywilligers wat reeds jare by dieresorg betrokke is, Dinsdag gesê.
Die toekoms van honde soos hierdie wat uit swak omstandighede verwyder word, hang af van die mate waarin die munisipaliteit en Odin verskille kan bylê en saamwerk. Foto's: Liezl van Niekerk
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'