OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het dié week kennis gegee dat die munisipale diereskut nie gaan skuif nie, maar dat hulle wel die perseel by die rioolwerke, waar dit tans is, gaan opgradeer.
Oudtshoorn Courant berig reeds sedert 2016 oor verwikkelinge wat by die skut sou plaasvind en dat dit onder nuwe bestuur geplaas sou word, maar tot dusver het niks gebeur nie.
Verlede jaar is berig dat R2,5 miljoen bewillig is om 'n splinternuwe skut by die munisipale depot in Dassieweg te bou.
Ten spyte van die feit dat daar reeds met die gebou begin is, is daar egter nou besluit om die skut te hou waar dit tans is as gevolg van weerstand van die gemeenskap.
Die direkteur van gemeenskapsdienste, Thomas Matthee, het dié week in reaksie op 'n navraag by monde van munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, gesê dat hulle nou 'n tender vir die bestuur van die skut uitgesit het en dat dit op 28 April sluit.
"Die munisipaliteit is verbind tot die taak soos opgelê in die skedules van die grondwet om voorsiening te maak vir 'n diereskut, gepaardgaande dienste en ordonnanse. Die grootste uitdaging is dat die munisipaliteit nie oor die kundigheid beskik om die welsynkomponent van die taak uit te voer nie en vandaar die idee om 'n geskikte instansie, met die nodige passie en kundigheid te kry, om namens die munisipaliteit die diens te lewer."
Volgens hom is daar in November 2018, deur die munisipale raad besluit om die skut na Dassieweg te skuif, maar daardie besluit is hersien
Bouwerk gestop
"In Februarie 2020 het die bouwerk begin, maar lede van die publiek en veral die omliggende besighede, het klagtes ingedien omtrent moontlike oorlaste en gebrek aan konsultasie. Die bouwerk is letterlik gestop deur diegene wat gekant was teen die nuwe ligging. Tydens 'n vergadering op 29 September 2020 het die lede van die publiek gevra dat hul saak weer voor die raad moet dien."
Tydens 'n spesiale raadsvergadering op 29 Oktober 2020 is besluit dat die kommer van die publiek in ag geneem moet word en dat die nuwe gebou wat by die depot opgerig is, voltooi moet word, en vir die doeleindes van 'n munisipale motorskut gebruik moet word.
Die ou skut by die rioolwerke sal steeds gebruik word en van die oorblywende fondse moet gebruik word om 'n kantoorblok vir die personeel op te rig. Volgens Matthee sal opgradering van die bestaande skut eersdaags begin.
Diere moet verskuif word
Volgens Matthee moet die diere wat tans by die skut is, verwyder word omdat die skut nie vir privaat doeleindes gebruik kan word nie.
Colleen Smith, voorsitter van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), 'n diereliefdadigheidsorganisasie, sê daar is tans ongeveer 70 van hulle honde wat by die skut verwyder moet word.
"Ons is baie opgewonde oor die besluit van die munisipaliteit om die skut onder nuwe bestuur te plaas. Ons moet egter nou dringend begin soek na fosters en aanneemhuise vir ons diere.
"Ons perseel in George is basies vol en ons kan nie al die diere oorskuif nie, al wil ons ook.
Ons wil dit egter aan die publiek duidelik maak dat ons regtig positief is oor die nuwe verwikkelinge en dat Odin steeds met liefdadigheid in die dorp sal voortgaan."
Volgens haar kan hulle op dié stadium in elk geval nie diere na die skut neem nie omdat daar 'n ernstige distemper-uitbraak is en die risiko om ander honde aan te steek te groot is.
"Ons fokus dus meer op tuisbesoeke en -behandeling en het steeds die publiek se ondersteuning in dié verband nodig."
Van die honde wat tans by die skut is wat dringend opsoek is na liefdevolle huise. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'