Update
OUDTSHOORN NUUS - Een van die twee kinders, wat Maandag in 'n botsing beseer is waar hulle pa op die toneel gesterf het, is in 'n kritieke toestand na Kaapstad oorgeplaas.
Die 7-jarige Okuhle Gqozana het ernstige breinbeserings opgedoen toe die Mazda waarin hulle pa hul skool toe geneem het, Maandagoggend op die Rooiheuwelpad deur 'n bakkie getref is.
Sy is aanvanklik in 'n koma na die Oudtshoorn-hospitaal geneem, toe na George oorgeplaas en Dinsdag Kaapstad toe geneem.
Volgens haar ma, Vuyukazi (36), het die dogtertjie bloeding op die brein en moet dringend 'n operasie ondergaan.
Die 9-jarige Onalo is Maandagoggend per noodhelikopter van die toneel na George geneem. Hy het veelvuldige frakture in die botsing opgedoen, maar is by sy bewussyn.
Die kinders se pa, Nkosinathi Jonas Gqozana (37), het Maandagoggend op die toneel aan sy beserings beswyk. Hy was 'n pastoor en het verlede jaar in September sy kerk in 'n houtgebou op 'n stukkie grond wat deur 'n kleinboer gehuur word, opgerig.
Sy vrou het Woensdagoggend deur middel van 'n tussenganger met Oudtshoorn Courant gepraat.
Volgens haar sou sy Woensdag met haar baba van 14 maande na Knysna vertrek om begrafnisreëlings vir haar man te tref. Sy was Woensdag steeds geskok en die tussenganger het gesê hulle ondersteun haar totdat sy sterk genoeg is om na Oudtshoorn terug te keer. Die botsing het Maandagoggend net na 07:00 plaasgevind.
Pastoor Gqozana was met die twee kinders in 'n Mazda Sting op pad na Bongolethu Primêr. Die grondpad van hulle huis af sluit tussen twee hoë grondwalle by die Rooiheuwel-pad aan.
Dit is nie duidelik of hy by die aansluiting stilgehou het voordat hy die pad oorgesteek het nie. Sy motor het reg voor 'n aankomende Isuzu-bakkie ingery.
Die bakkie het die Mazda op die regterkant getref en die motor het 'n aantal meter verder op die skouer van die pad tot stilstand gekom. Onalo is met die slag oor die agterste sitplek in die bagasieruim in geslinger en Okuhle is uit die motor geslinger. Sy is dadelik per ambulans hospitaal toe geneem terwyl paramedici gespook het om die beseerde Onalo uit die motor te kry om na die helikopter geneem te word.
Volgens die bestuurder van die bakkie het die motor reg voor hom ingery. Hy is nie beseer nie en een van die werkers wat agter op die bakkie gesit het, is lig beseer.
Paramedici bahandel die beseerder Onalo (9) op die toneel voordat hy na die helikopter geneem word. Foto's: Hannes Visser
Die Isuzu-bakkie op die toneel waar die motor getref is.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'