OUDTSHOORN NUUS - 'n 52-jarige voormalige polisielid van Oudtshoorn is die afgelope Desember op die dorp in hegtenis geneem op drie klagtes wat met die vuurwapenwet verband hou.
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gister gesê lede van die provinsiale FLASH-kantoor - die eenheid wat werk met wapens, die verkoop van tweedehandse produkte en drank - het die ondersoek hanteer wat tot Jacques Jacobs se arrestasie gelei het.
Volgens Pojie was Jacobs tot onlangs 'n adjudant-offisier en het hy by die vuurwapenafdeling van die Oudtshoorn-polisiestasie gewerk.
"Die lede van die FLASH-span het 'n lasbrief by die landdroshof bekom en Jacobs se woning op 21 Desember deursoek. Die span het 40 vuurwapens van verskillende make en kalibers, sowel as 10 000 rondtes ammunisie in sy woning gekry. Hy is op grond hiervan in hegtenis geneem."
Die klagtes teen hom is diefstal, besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, asook regsverydeling.
Hy het dieselfde dag in die hof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat tot en met sy volgende verskyning op 21 Januarie.
Jacobs is onlangs medies ongeskik verklaar, maar was glo steeds in diens van die polisie toe die misdrywe gepleeg is.
Volgens 'n klagstaat wat Oudtshoorn Courant onder oë gehad het, het Jacobs in 2018 glo 'n antieke vuurwapen van Petrus Johannes Fourie gesteel. Die misdryf het na bewering in of naby Hoogstraat plaasgevind. Volgens die klagstaat is die raamwerk van 'n antieke vuurwapen en nog 'n antieke vuurwapen, beide met verskillende reeksnommers, op 21 Desember by Jacobs se woning gevind, maar het hy nie 'n lisensie of permit vir die wapens gehad nie. Volgens inligting wat nog bevestig moet word, is daar die moontlikhid dat nog klagtes bygevoeg kan word.
Wapenvonds in dam
Intussen blyk dit dat die polisie nuwe leidrade opvolg in verband met die vuurwapens wat aan die begin van verlede jaar by die Raubenheimerdam gevind is. Gerugte dat Jacobs ook hierby betrokke is, kon nie deur die polisie bevestig word nie.
Die wapens en ammunisie is op 7 Januarie 2021 in die dam deur 'n munisipale werker ontdek.
Polisieduikers het toe ondermeer drie Martini Hendry gewere, een BSA geweer, een antieke haelgeweer, een .303 en en 8 820 rondtes ammunisie van verskeie kalibers gevind.
Volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die ondersoek rakende die wapens in die dam steeds aan die gang.
Van die vuurwapens en ammunisie wat begin verlede jaar by die Raubenheimerdam gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'