Volgens 'n ooggetuie het die man in 'n blou Toyota in St Saviourstraat afgery en links in Hoogstraat ingedraai sonder om by die stopteken stil te hou. Hy het nadat hy gedraai het oor die sypaadjie voor AVBOB gery en deur die erfmuur van Ellis Motors gebars.
"Hy het nie gestop by die stopstraat nie en nadat hy om die draai gekom het, het hy vinniger gery, maar aangehou met draai en toe jaag hy in die muur vas," het sy gesê.
Die man, geklee in 'n blou sweetpakbaadjie het sy swygreg op die toneel uitgeoefen en almal wat met hom gepraat het geïgnoreer. Van sy vriende was gou op die toneel en het probeer om die motor aan die gang te kry en weg te ry, maar die stuurmeganisme was stukkend. Een van hulle het gesê die man het die muur gestamp omdat hy "confused with the children" was. Daar het 'n aantal kinders by die ongeluk rondgestaan, maar dit blyk nie dat hulle in gevaar was toe die ongeluk gebeur het nie.
Volgens kapt. Louis Visser, Oudtshoorn se polisiewoordvoerder, word 'n klag van roekelose en nalatige bestuur sowel as 'n klag vir bestuur sonder 'n rybewys ondersoek. Die eienaars van Ellis Motors moes Dinsdagaand tydelik planne maak om die deel waar die muur wat omgery is te beveilig om te voorkom dat daar deur die nag aan voertuie op hul perseel gepeuter word.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Vriende van die bestuurder probeer die motor aan die gang kry nadat dit die muur getref het.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'