Die toekenning van die Wes-Kaapse onder-wysdepartement is gebaseer op die onafhanklike toetse wat jaarliks deur die WKOD afgeneem word. Alle leerders in graad 3 en 6 van die 1066 skole Wes-Kaapse laerskole (700 000 leerders) word verplig om die toetse te skryf. Die doel is om die gehalte van onderrig te bepaal en te verbeter.
Wesbank het puik presteer en is een van slegs drie skole in die Wes-Kaap wat die toekenning vir wiskunde ontvang het. Dit het 'n prysgeld van R20 000 ingesluit.
Volgens die skoolhoof, Alewyn Hanekom, bewys die skool se uitslae die afgelope jaar dat dit een van die beste skole in die provinsie is met wiskunde onderrig.
"Ek dink vandag terug aan die visie van dr. Wessel Vermeulen, voorsitter van die Beheerliggaam in 1994, dat Wesbank die beste skool in wiskunde-onderrig moet word en 20 jaar later het ons daarin geslaag!" het 'n trotse Hanekom gesê.
Die skool het vir drie jaar ver bo die gemiddelde prestasie van die provinsie uitgestyg. In 2011, 2012 en 2013 was die skool se wiskunde prestasie soos volg in vergelyking met die provin-siale gemiddeld:
Gr 3
2011 - Wesbank 96,7% - Wes-Kaap 47,2%
2012 - Wesbank 98,9% - Wes-Kaap 51,5 %
2013 - Wesbank 97,8% - Wes-Kaap 55 %
Graad 6
2011 - Wesbank 91,2% - Wes-Kaap 23,4%
2012 - Wesbank 94,1% - Wes-Kaap 26,4 %
2013 - Wes-Kaap 89,2% - Wes-Kaap 28,3 %
Hanekom het voorts al die personeellede van die skool bedank vir hulle goeie werk en ook ouers bedank vir die moeite wat hulle doen om by hulle kinders betrokke te wees.
"En dan is ons ook baie trots op al ons leerders wat so mooi werk," het hy bygevoeg.

Tydens die oorhandiging van Wesbank se toekenning is, van links: P Vinejevold (superintendent-generaal van onderwys), Elize van Rensburg (departementshoof grondslagfase), S Wallace (kurrikulumbestuurder: DHP), Alewyn Hanekom en Donald Grant (minister van onderwys).