Ruiters se liggaam is 'n dag na sy vermis geraak het op 'n oop stuk grond agter die gasteplaas, Montana, deur haar dogter Leah Ruiters gevind.
Johnathan Hoogaard, 'n man wat voor Ruiters grootgeword, is in verband met die moord en verkragting in hegtenis geneem en het voor Dinsdag se vonnisoplegging op die klagtes skuldig gepleit.
Wenzel Botha, Hoogaard se prokureur, het Dinsdag in die hof gesê dat Hoogaard besig was om skrootmetaal op te tel toe Ruiters verby hom loop.
Volgens hom het Hoogaard haar op die grond neergegooi waarna sy bewusteloos was en hy het haar verkrag. Ruiters het wakker geword en Hoogaard het 'n klip in haar keel afgedruk en haar verwurg.
Dit het ook in die hof uitgekom dat Hoogaard vorige veroordelings gehad waaronder poging tot moord in 2003 waarvoor hy drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar gekry het.
In 2004 is hy skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer waarvoor hy een jaar tronkstraf, opgeskort vir twee jaar gekry het en in 2011 is hy weer aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind. Hy het twee jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar gekry. Hy is ook aan huisbraak skuldig bevind.
Wenzel het aan die hof gevra om Hoogaard se persoonlike omstandighede in ag te neem wanneer die vonnis opgelê word en om ook in ag te neem dat hy skuldig gepleit het wat as versagting kan dien. Hy het ook gesê dat die twee klagtes van moord en verkragting se vonnis samelopend moet uitdien en dat die hof nie aan Hoogaard 'n 'Matusalem-vonnis' moet oplê en die sleutel weggooi nie.
Elaine Plaaitjies, wat vir die staat opgetree het, het gesê dat Hoogaard lewenslange tronkstraf behoort te kry. Sy sê Hoogaard het Ruiters geken en dat hy voor haar grootgeword het. Sy het bygevoeg dat Ruiters se dogter vir die staat sou getuig het as sy nie so getraumatiseerd was na sy haar ma in so 'n toestand moes kry nie.
Sy het ook aangevoer dat Hoogaard net skuldig gepleit het omdat die uitslag van DNA-toetse bekend gemaak is wat hom duidelik met die misdaad verbind. Hy het toe hy is in 'n hoek vasgedruk en skuldig gepleit.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het gesê daar is geen wesenlike en dwingende omstandighede vir die afwyking van 'n minimum vonnis nie, omdat Hoogaard se aanval op Rui-ters uiters brutaal was. Hy het ook genoem dat die skuldige se vorige veroordelings 'n bewys is van die feit dat sy gewelddadige gedrag besig is om te eskaleer.
"U het 'n ou vrou van 76 jaar oud se lewe beëindig. Die hof kan dit nie verstaan nie. Getuienis dat u dronk was is ook nie 'n verskoning nie. Sy rekord wys hy is gewelddadig en alhoewel hy gepleit het, het hy geen berou getoon nie. Dit is die hof se plig om ou mense, vroue en kinders te be-skerm," het hy gesê.
Hy het aangedui dat die hof nie sulke misdade sal duld nie, maar dat lewenslange tronkstraf nie 'n gepaste vonnis is nie.
Hy het dus Hoogaard tot 15 jaar tronkstraf vir die verkragting gevonnis en 20 jaar vir die moord. Vyf jaar van die 20 jaar word samelopend met die 15 jaar uitgedien wat beteken dat Hoogaard 'n vonnis van 30 jaar opgelê is.
Klik hier vir 'n verwante artikel.
Fytjie Ruiters
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'