Update
OUDTSHOORN NUUS - Geen klag word ondersoek na 'n huis Sondagmiddag in Rosebank afgebrand het nie.
Die oorsaak van die brand is ook nie bekend nie.
Die Oudtshoorn Courant was Sondag op die toneel toe brandweermanne reeds besig was om die brand te blus.
Volgens omstanders op die toneel was daar 'n vrou in die huis wat deur bure by 'n venster uitgehelp is. Sy is later deur vriende na die hospitaal geneem. Dit is nie bekend of sy in die brand beseer is nie.
Een van die persone op die toneel het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat inwoners van Rosebank gehelp het om van die besittings uit die huis te dra en die vuur te blus.
Terwyl die joernalis op die toneel was het 'n bakleiery 'n ent van die huis wat afgebrand het ontstaan. 'n Man wat by die bakleiery betrokke was het 'n wond aan sy nek opgedoen. Hy het beweer hy is aangerand omdat iemand hom daarvan beskuldig het dat hy besittings uit die brandende huis gesteel het.
Dit is nie bekend wie die persoon is wat hom aangerand het nie. Volgens die man, wat verkies het om nie sy naam te noem nie, was hy wel by die huis tydens die brand, maar was hy een van die omstanders wat hulp verleen het.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê dat daar geen klag oor die brand of die aanranding by die polisie aangemeld is nie.
Volgens die inwoners van die huis het die brandweer teen Woensdag nog nie enige terugvoering gegee oor die moontlike oorsaak van die brand nie.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'