Update
OUDTSHOORN NUUS - Die WKOD het Vrydag gereageer op navrae wat aan die begin van Februarie gestuur is nadat 'n stutmuur by Grootkraal Primêr naby die Kango-grotte omgeval het.
Die Oudtshoorn Courant het op 31 Januarie berig dat die muur, wat sonder toestemming deur die skool opgerig is om die parkering van busse te fasiliteer, op Woensdag 29 Januarie omgeval het.
Daar is ten tyde van die berig reeds bevestig dat die provinsiale departement van vervoer reeds verlede jaar die skool in kennis gestel het dat daar geen goedkeuring vir die muur gegee is nie. Ten spyte daarvan het die skool die muur voltooi.
Die skoolhoof, Llewelyn Metembo, beweer dat die muur met opset omgestamp is en het 'n klag in die verband by die polisie gelê. Met 'n besoek aan die skool was hy nie bereid om met die Oudtshoorn Courant te praat nie.
Die persoon teen wie die klag van saakbeskadiging gelê is, het gesê hy het die aangeleentheid na sy regsverteenwoordiger verwys aangesien hy in die eerste plek nie kan verstaan hoe Metembo 'n klag teen hom kan lê vir iets wat nie op die skoolterrein plaasgevind het nie.
"Die muur is opgerig op eiendom wat deur die departement van vervoer bestuur word, nie op privaatgrond of op WKOD eindom nie en tweedens is dit vir my verbysterend dat 'n klag gelê kan word omdat iemand die muur "omgestamp" het. Hoe sterk was die muur dan wat die gewig van skoolbusse moes dra?"
In antwoord op navrae van die Oudtshoorn Courant het die WKOD se woordvoerder, Millicent Merton, Vrydag gesê, "Die skool het nie aansoek gedoen by die WKOD of toestemming by die WKOD ontvang om die muur op te rig nie. Die WKOD is ook nie bewus van enige ander goedkeuring verleen tot die oprigting van sodanige muur nie."
Die muur voordat dit omgeval het. Die gedeelte agter die muur is opgevul met grond wat uit die padresere aan die oorkant van die pad hehaal is.
Volgens haar het die kringbestuurder bewus geraak van die muur nadat 'n klagte ontvang is en hy het die skool besoek en die skoolhoof gemaan het om die nodige toestemming te kry. Die kringbestuurder is onmiddellik deur die skoolhoof ingelig dat die muur omgeval het. Die muur was buite die skoolterrein opgerig en geen leerders is beseer nie.
Volgens Merton is alle bourommel verwyder en sal die nodige goedkeuring eers verkry moet word voordat 'n ander muur opgerig word.
Beweringe wat gemaak word dat die skool tans ses busse het wat leerders van so ver as Oudtshoorn verby ander skole vervoer en dat die busse aan die skoolhoof behoort is ook aan die WKOD gestuur.
Hierop het Merton gesê: "Daar is geen WKOD-roetes van Oudtshoorn na Grootkraal PS nie. Ons beleid maak nie voorsiening daarvoor nie. Die leerders word dus op ouers se eie koste na die skool vervoer."
Op die vraag oor die eienaarskap van die busse het sy gesê daar is tans 'n forensiese ondersoek aangaande die eienaarskap en bedryf van die skoolbusse.
Vorige artikel: Leerders nie naby toe muur val
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'