Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Stutmuur, wat volgens voorlopige inligting onwettig deur Grootkraal Primêr, wat op die grotte-pad geleë is, opgerig is, het Woensdag 29 Januarie, gedurende skooltyd omgeval.
Die muur is verlede jaar deur die skool opgerig nadat 'n klagte oor die aantal busse wat kinders vervoer aan die Wes-Kaapse departement van vervoer gestuur is.
Volgens die klagte is die aantal busse 'n verkeersgevaar omdat hulle U-draaie oor die hoofpad maak om voor die skool stil te hou.
In reaksie het Clive Roos, die departementshoof, 'n e-pos aan Lodewyk de Klerk, woordvoerder van Kobottrust, die eienaars van die grond waar die skool geleë is, gesê 'n ondersoek is deur die departement gedoen.
Daar is bevind dat die busse met veiligheid kan draai, maar dat die skouer van die pad voor die skool waar die busse parkeer verbreed moet word sodat daar genoeg plek vir leerders is om die busse veilig te gebruik.
Op 12 Desember het De Klerk 'n dringende e-pos aan Roos gestuur om hom in te lig dat die skool self begin het om 'n stutmuur te bou en die skouer van die pad op te vul om die busse daar te laat parkeer. In die e-pos vra De klerk of die departement van vervoer toestemming vir die stutmuur en die verbreding van die skouer gegee het en of konstruksiewerk volgens spesifikasies gedoen word.
In sy antwoord het Roos gesê die distrik se paaie-afdeling is reeds twee dae vroeër, op 10 Desember van die konstruksiewerk ingelig.
Volgens hom het amptenare die plek besoek en opdrag gegee dat werk onmiddellik gestaak moet word en dat bewys gelewer moet word dat die nodige goedkeuring vir konstruksiewerk volgens voorgeskrewe regulasies gegee is. In die e-pos stel Roos dit ook duidelik dat die WKOD in kennis gestel sal word van die "unlawful nature of the work so that the WCED can deal with the school governing body".
Volgens De klerk het die skoolhoof egter voortgegaan om die muur te laat oprig en die skouer verbreed met grond wat van die oorkant van die pad af aangery is. Die muur het Woensdag omstreeks 10:00 omgeval en 'n nabygeleë gebou beskadig.
Kyk 'n video hieronder:
Die Oudtshoorn Courant het die skool gisteroggend (Donderdag) besoek, maar die skoolhoof, Llewellyn Metembo, het die koerant die deur gewys omdat hy ongelukkig is met 'n vorige berig wat oor die moontlike verskuiwing van die skool gehandel het.
Hy het geweier om enigiets oor die kwessie te sê, behalwe dat die muur "nie self omgeval het nie, en 'n klag is gelê".
Terwyl die Oudtshoorn Courant daar was het werkers en 'n amptenaar van die paaie afdeling opgedaag om die bourommel te verwyder, maar Metembo het geweier en gesê dit is deel van 'n polisieondersoek.
Hy het gesê dat hy 'n klag teen iemand gelê het wat glo met opset die muur laat omval het. In reaksie hierop het De Klerk gesê hulle is nie bewus van enige klag nie, maar indien die muur wel as gevolg van 'n voertuig omgeval het, is dit volgens hom verdere bewys dat die onwettige muur onveilig was.
'n Navraag oor die kwessie rakende die oprig van die muur is gister aan Clive Roos gestuur en daar is ook 'n navraag aan die WKOD gerig om te bepaal of hulle wel verlede jaar kennis ontvang het van die muur wat opgerig is.
Die skool gebruik tans ses busse wat leerders vervoer. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'