Update
OUDTSHOORN NUUS - Die vrou van Oudtshoorn wat sedert Julie vanjaar vermis was, is Maandag 27 Augustus gevind ná 'n berig oor haar verdwyning op die George Herald se webwerf verskyn het.
Elsbeth Lakay (35) is op 28 Julie deur haar familie by die Oudtshoorn-polisie as vermis aangemeld. Sy het op 3 Augustus by die Dora Nginza-hospitaal in Algoapark, Port Elizabeth opgedaag.
Sy weet tot vandag toe nie hoe sy daar beland het nie en het aan hospitaalpersoneel gesê dat haar naam Anna Windefield is.
"Ons weet nie waar kom sy aan die naam nie. Ons is net vreeslik verlig dat sy gevind is. Ons was bitter bekommerd oor haar, want ons het oral gesoek en kon haar nêrens vind nie, " sê haar suster, Felicia.
Felicia sê hulle weet ook nie hoe sy in Port Elizabeth beland het nie. Lakay het ook aan hospitaalpersoneel gesê dat sy familie in Blanco het, maar kon verder nie veel onthou nie.
Die Dora Nginza-hospitaal het die George Herald verlede Maandagoggend gekontak, waarna 'n berig op die koerant se webwerf geplaas is waarin daar na Lakay se familie gesoek word.
Familielede het die berig raakgelees en familielede, waaronder haar broer, Llewellyn, het dieselfde dag na Port Elizabeth gereis.
Elsbeth Lakay sterk tans in 'n hospitaal in Port Elizabeth aan. Sy sal later na Oudtshoorn gebring word.
Joernalis, Liezl van Niekerk, van die Oudtshoorn Courant, het in Julie vanjaar die oorspronklike berig oor Lakay se verdwyning geskryf.
Daarin word genoem dat Lakay vroeër ook al weggeloop het, maar altyd weer spoedig teruggekom het huis toe. Sy het ook twee minderjarige kinders. Enigiemand met inligting rondom hoe Lakay in Port Elizabeth beland het, word gevra om Felicia by 082 262 6464 of 072 486 5955 te skakel.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'