Update
OUDTSHOORN NUUS - ‘n Vrou van Oudtshoorn, Elsbeth Lakay (35) wat sedert Julie vanjaar vermis was, is gister in ‘n hospitaal in Port Elizabeth opgespoor.
Lakay is op 28 Julie deur haar familie by die polisie as vermis aangemeld.
“Ons is vreeslik verlig dat sy gevind is. Ons was bitter bekommerd oor haar, want ons het oral gesoek en kon haar nêrens vind nie,” het haar suster, Felicia, vanoggend aan die George Herald gesê.
Lakay se familielede het gister ‘n berig, waar gevra word na Lakay se familie, op die George Herald se webwerf gesien waarna familielede, waaronder haar broer, Llewellyn, gister na Port Elizabeth gereis het om haar uit te ken.
Sy het op 3 Augustus by die Dora Nginza-hospital in Algoapark, Port Elizabeth, opgedaag. Sy weet tot vandag toe nie hoe sy daar beland het nie en het aan hospitaalpersoneel gesê dat haar naam Anna Windefield is.
“Ons weet nie waar kom sy aan die naam nie,” sê Felicia.
Lakay het ook aan hospitaalpersoneel gesê dat sy familie in Blanco het, maar kon verder nie veel onthou nie. Die hospitaal het die koerant gekontak, waarna ‘n berig op die George Herald se webwerf daartoe gelei het dat Lakay se familie haar kon opspoor.
Die Oudtshoorn Courant het in Julie berig dat sy vroeër ook al weggeloop het, maar altyd weer spoedig teruggekom het huis toe. Sy het ook twee minderjarige kinders.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'