OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn United Congregational Church (UCC) het onlangs hul gemeente se ryke erfenis herdenk deur 'n krans op een van hul voormalige gemeentelede, eerwaarde Bartholomew Anderson, se graf te lê.
Anderson het die gemeente vanaf 1846 tot 1897 gedien. Hy was ook 'n onderwyser van beroep en het in Dysselsdorp onderrig gegee. Sy vrou, Janet is langs hom ter ruste gelê en het die Sondagskoolklasse behartig.
Die Anderson-laerskool wat destyds in Jonesstraat geleë was is na dié egpaar vernoem. Na afloop van die kransoplegging het die gemeente op die betrokke Sondagoggend 'n spesiale Erfenisdagdiens by die kerk gehou.
Tydens die erediens het Japie Coetzee, lid van die sendingraad en sameroeper vir die bediening vir bejaardes, gesê dat dit belangrik is dat die kerk se geskiedenis aan die nuwe generasie gemeentelede oorgedra word.
"Indien dit nie gedoen word nie sal dit soos 'n grondpaadjie wees wat nie meer gebruik word nie en deur bosse toegegroei word. Niemand sal naderhand later eers weet dat daar 'n paadjie was nie," het hy gesê.
Gemeentelede van die Oudtshoorn United Congregational Church by die graf van eerwaarde Anderson.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'